
‘n Egpaar se huis in Sonheuwel word deur ‘n donga bedreig wat al hoe groter word en al hoe nader aan hul huis beweeg.
Die uitsig wat ‘n mens van mnr. Chris en me. Trysie Roux se stoep af in die gesig staar, is nie die uitsig wat ‘n mens van ‘n belastingbetaler se stoep af verwag nie. Wanneer ‘n mens teen die muurtjie staan wat hul erf afbaken, moet jy liefs nie aan hoogtevrees ly nie.
Dis net boomwortels, elektriese kabels en ‘n donga waar jy kyk.
“En hierdie donga word jaarliks groter,” vertel Trysie. Die huis is digby Laerskool Laeveld geleë. Bouwerk het in Junie 2013 aan die skool se kant begin en sedertdien skuif die grondwal al nader. Roux sê twee jaar gelede was die grond solied tot by ‘n elektrisiteitspaal sowat 100 meter ver. Nou is dit ‘n armlengte van hul grensmuur af.
Sy het verduidelik dat ‘n projek deur die skool van stapel gestuur is wat die natuurlike watervloei van stroomwater naby hul erf verander het. Reënwater het met verloop van tyd erosie meegebring, wat veroorsaak het dat groot stukke grond weggewerk is. Die gevolglike naderskuiwende afgrond lei daartoe dat kragkabels wat veronderstel is om ondergrond te wees, nou sigbaar is.
“Hierdie grond dreig om verder deur vloedwater meegesleur te word en hou ‘n dreigende gevaar vir ons in.
“Ek is veral bekommerd oor my man wat ‘n parapleeg is en in groot gevaar sal wees as hy op die verkeerde plek is wanneer so iets gebeur.”
Hulle het die munisipaliteit se bystand versoek en op 16 Oktober het mnr. Jeff Nkuna onderneem dat ‘n kontrakteur aangestel sou word om die probleem op te los. “Die sperdatum hiervoor was November, maar dit het nooit gebeur nie.”
Die Roux’s het weer bystand versoek. “Ons het die munisipaliteit daarop gewys dat ons die kwessie al op 4 Junie 2013 met hulle opgeneem het. Ek het weer na die korrespondensie tussen my en die munisipaliteit gaan kyk en kan bevestig dat ‘n konsultant van die Departement van Omgewingsake op 21 Augustus 2013 die perseel besoek het. ‘n Gebrek aan bewustheid van die probleem is dus geen verweer nie,” verduidelik Trysie.
Sy het Nelspruit Post gekontak, wat ‘n navraag aan die munisipaliteit gerig het.
Volgens me. Bessie Pienaar, woord-voerder vir die munisipaliteit, is ‘n tender geadverteer om die dienste van ‘n kontrakteur te verkry wat die herstelwerk kan doen. “Teen volgende week Vrydag (13 Februarie) sal die kontrakteur aangestel wees en die werk daarna in aanvang neem,” het sy op 2 Februarie aan Nelspruit Post bevestig.
Daar is egter tot dusver geen bevestiging van die nuwe kontrakteur se aanstelling nie. “Hier was niemand hier nie en die gevaar word elke dag groter,” bevestig Trysie terwyl sy die voor-die-hand-liggende krisis uitwys.
Kliek hier vir foto’s van die afgrond.
