Hard newsLocal newsNewsNews

Munisipaliteit probeer verkoop van Laeveld Skouterrein keer

Die munisipaliteit wou gister se veiling van die Laeveld Skouterrein keer deur die grond te onteien. Die kennisgewing van onteiening was egter foutief en is teruggetrek.

MBOMBELA – Die langverwagte veiling van die Laeveld Skouterrein gister is met heelwat drama voorafgegaan.  Die hoogste bod – van R28 miljoen – is voorlopig toegestaan. Daar is egter sewe dae grasie vir iemand om met ‘n hoër bod te kom.Die bieër is mnr. Saleh Mohamed. Hy het opgetree namens die Devland-groep, wat die Metro Cash & Carry-winkels bedryf.

Die veiling by Mercure Hotel het nie eens 10 minute geduur nie. Die openingsbod het op R10 miljoen begin en die bod van
R28 miljoen is toegestaan.

Die veiling het egter nie gebeur voordat Mbombela Plaaslike Munisipaliteit vroeër die week ‘n stokkie voor dit probeer steek het nie.

‘n Kennisgewing van onteiening is Dinsdag by die Laeveldse Skouvereniging afgelewer waarvolgens eiendomsreg twee dae later dié van die munisipaliteit sou wees. Onteienings soos hierdie word deur die Grondwet en die Onteieningswet van 1975 gefasiliteer, soos wat die kennisgewing aandui.

Volgens mnr. Louis Kotzé, direkteur van die skouvereniging, is ‘n skrywe van Mbombela laat Woensdagmiddag by die vereniging afgelewer, waarin daar afstand van die voorgenome onteiening gedoen is.  Kotzé het die verloop tot die onteieningskrywe aan Laevelder toegelig. “Die skougronde beslaan tans twee gedeeltes van die sogenaamde Plaas Nelspruit – gedeeltes 39 en 85. Gedeelte 39 is om en by agt hektaar groot en in 1952 aan die vereniging geskenk deur die munisipaliteit. ‘n Bepaling wat die verkoop van die skougronde verbied, is reeds in 1983 opgehef.”

“Die skouvereniging het mettertyd ‘n tweede gedeelte grond – gedeelte 85 – gekoop. Gedeelte 85 is die enigste toegangsroete tot gedeelte 39 en ons wou op hierdie persele handeldryf. Die vereniging het hieroor navraag gedoen, waarop die munisipaliteit geantwoord het dat dorpstigting op gedeeltes 85 en 39 ‘n voorvereiste hiervoor is.”

“Die vereniging het besluit dat dit meer voordelig vir homself en sy doel en oogmerke sal wees om ons bedrywighede voort te sit op ‘n stuk grond wat minder beperkings dra.” Hiermee verwys Kotzé na die beperkende sonering van die skougronde en die titelvoorwaardes wat die gebruik van die grond beperk. “Beide dele 39 en 85 is verkeerd gesoneer. Gedeelte 39 is gehersoneer van ‘landbougrond’ na ‘spesiale – skoudoeleindes’, welke hersonering die Laeveldse Skouvereniging in ‘n kommersiële erfbelastingskategorie – die hoogste wat daar is – geplaas het.”

Die gronde word privaat gewaardeer vir R35 miljoen, alhoewel die munisipaliteit se gekanselleerde onteieningsaansoek R28 miljoen as vergoeding vir die onteiening van die grond aangebied het. Laasgenoemde bedrag is volgens die munisipaliteit se waardasie.

Teenkanting is ook ontvang van die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP). Dié het met die vereniging in verbinding getree en versoek dat die veiling nie plaas-vind nie en die grond eerder aangewend word “in lyn met die Grondwet se doel en oogmerke”. Daar is spesifiek verwys na die doelwit van grondhervorming.  “Ons maak beswaar teen die koloniale metode waarop hierdie proses behartig word.  Grond behoort eerder aan dié sonder grond en armes gegee te word,” het die SAKP gesê.

“Ons maak beswaar teen die koloniale metode waarop hierdie proses behartig word. Grond behoort eerder aan dié sonder grond en armes gegee te word,” het die SAKP gesê.

Daar is besluit dat ‘n openbare veiling die deursigtigste manier is om die eiendom oor te dra en skriftelike kennis van die vereniging se voorneme is in November 2013 by die munisipaliteit afgelewer.  Hulle het onderhandelinge versoek en wou die vereniging bystaan in die soeke na en aankoop van ‘n nuwe perseel, waarvoor dit ‘n taakspan wou saamstel.

Die vereniging het aangedui dat dit nie van hierdie aanbod wou gebruik maak nie. Die vereniging se regsverteenwoordiger, mnr. Johan du Preez, het sekere tekortkominge op die onteieningkennisgewings aan die munisipaliteit uitgewys.

Hulle het hierop gereageer met ‘n skriftelike terugtrekking, wat egter ook ‘n dreigement van ‘n toekomstige onteiening bevat het.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button