Hard newsNewsNews

Vroeggebore babas steel harte op Facebook

Chariske en die babas sal na verwagting 12 weke in die hospitaal moet deurbring voordat die tweetjies sterk genoeg sal wees om ontslaan te word

MBOMBELA – ‘n Paartjie wat jare lank gesukkel het om swanger te raak, het hierdie week ‘n drieling in Rob Ferreira Hospitaal ryker geword. Een van hulle – ‘n seuntjie – het egter na sowat 18 uur weens komplikasies gesterf.

Die twee oorblywende babas roer aan die hartsnare en is besig om sterstatus in die Laeveld te verwerf, danksy inskrywings op die groep genaamd Nelspruiters op Facebook. Juandré, Luandré en Jenny Small is Dinsdag met ‘n keisersnit in die wêreld gebring. Chariske Small (28) was slegs
29 weke lank swanger en het drie keer dreigende miskrame in hierdie tyd gehad. Haar man, Juan (28) het haar Dinsdag na die hospitaal gebring omdat dit geblyk het dat haar water gebreek het en die babas is gebore.

Hoewel die drie relatiewe goeie geboorte-gewig gehad het, kon hulle nie self asemhaal nie en is dadelik in die intensiewe sorgeenheid aan ventilators gekoppel. Juandré se hartjie het egter Woensdagoggend gaan staan en dokters kon hom nie bybring nie, ondanks adrenalieninspuitings.
Daar is aanvanklik op Facebook berig dat daar nie plek in die intensiewe sorgeenheid vir Juandré was nie, maar die egpaar het Rob Ferreira geprys vir die behandeling wat hulle ontvang en gesê mediese personeel het alles in hulle vermoë gedoen om sy se lewe te red.

Hulle het besluit om Luandré nou Juandré te noem. “Dokters het gesê ons sal nooit kan kinders hê nie. Chariske het vrugbaarheidsbehandeling ondergaan en ons was in die wolke toe ons uitvind sy verwag ‘n drieling,” het Juan vertel. Hy het opgewonde bygevoeg dat, hoewel hulle nog nie hul kinders kon vashou nie, hy hulle gister kon skoonmaak.

Die swangerskap was nie sonder komplikasies nie en die gesin behoort nie aan ‘n mediese fonds nie. Juan het sy werk verloor en het onlangs eers met kontrakwerk by Joubert & Seuns begin. Hy en Chariske bly in Sabie en moes al baie uitgawes aangaan om na Mbombela te reis vir doktersbehandeling. “Ons het ook ons huis verloor en gaan tuis in ‘n vriend s’n,” het hy vertel.

Chariske en die babas sal na verwagting 12 weke in die hospitaal moet deurbring voordat die tweetjies sterk genoeg sal wees om ontslaan te word. “Ek sal werk soos ek kan, maar ek sal my vrou en kinders ook moet bystaan,” het Juan opgemerk.

Die gesin sal skenkings in die vorm van doeke, melk, pap en ander bababenodigdhede waardeer. “Ons ervaar al reeds soveel goedhartigheid van selfs vreemdelinge en is vreeslik dankbaar teenoor elkeen vir hulle bydraes,” het Juan gesê.

Diegene wat wil bydra, kan Linda Kotzé by 083-432-9471 skakel.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button