Motoriste boos oor die hoë tol wat hulle nou moet betaal
Sanral sê heffings soos hierdie is dus nodig om instandhouding van paaie te verseker.
MBOMBELA – Motoriste is dié week ‘n dubbele nekslag toegedien toe die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) ‘n verhoging van 6,017 persent op nasionale tolroetes aangekondig het.
Dié verhoging volg kort op die hakke van ‘n petrolprysverhoging wat Woensdag in werking getree het.
Volgens mnr. Nazir Alli, uitvoerende hoof van Sanral, is die tariefaanpassings in lyn met die verbruikersprysindeks. Dit is goedgekeur deur die minster van vervoer, me. Dipuo Peters en sal van môre af geïmplimenteer word.
Die land se twee duurste tolhekke, wat beide op die N4, by Swartruggens en Machadodorp, geleë is, sal motoriste wat met ligte voertuie reis nou elk R75 uit die sak jaag. Swaarvoertuigbestuurders, met vragmotors wat vyf en meer asse het, sal egter R432 moet opdok by die Machadodorptolhek en om vanaf Mbombela na Pretoria en terug te reis, sal motoriste R310 uit die sak jaag, slegs op tolhekke.
Plaaslike motoriste is egter hoogs ontevrede.
“Hoeveel keer wil hulle nou nog die tolfooie opsit? Is dit nie genoeg dat hulle klaar hoeveel geld gaan maak met die e-tolstelsel nie?” wou me. Chantel Botes Coetzee ontstoke weet. Me. Celia van Wyk het by Coetzee aangesluit en bygevoeg dat heffings soos hierdie hulle magteloos laat. “Ons tolgeld en belastinggeld word op onbenullighede gemors en ons kan niks daaraan doen nie,” het sy gesê.
Sanral het egter die algemene wanopvatting dat die tolstelsel ‘n vorm van dubbele belasting is, verwerp en dit duidelik gemaak dat belasting gebruik word om nie-tolpaaie te finansier. “Belasting word nie gebruik om tolpaaie te finansier nie, maar wel nie-tolpaaie. Individuele belastingverpligtinge word in der waarheid verminder deur die gebruiker-betaalstelsel,” het Sanral gesê.
Sanral meen tolfasiliteite bied waarde en ‘n keuse vir almal en sê dat die verbruiker of kliënt waarde ontvang in die vorm van tyd, besparings, gerief en beter instandgehoude paaie.
Waarom moet tolgeld betaal word?
Weens onvoldoende fondse uit die nasionale begroting om die totale nasionale padnetwerk in stand te hou en op te gradeer, word 20 persent van Sanral se paaie getol.
Volgens Sanral beteken dit dat geld geleen moet word om tolroetes op te gradeer en te onderhou.
Volgens Sanral is dit noodsaaklik dat snelweë opgegradeer moet word weens die feit dat dit mettertyd weens omgewings- en ander faktore verswak.
Sanral sê heffings soos hierdie is dus nodig om instandhouding van paaie te verseker.
Dit stel hulle in staat om paaie vroeër te voorsien omdat daar nie gewag word op belasting-gebaseerde inkomste wat hierdie paaie tradisioneel befonds nie.
“Tolpaaie verseker ‘n padnetwerk van hoë gehalte en verseker dat brood-nodige infrastruktuur so gou moontlik gelewer word.”
Dit het volgens Sanral verder ekonomiese groei, toerisme en sosiale ontwikkeling tot gevolg en benewens die bydrae tot verbeterde padveiligheid, verminder tolroetes oor die algemeen afstand wat lei tot ‘n aansienlike besparing op die lopende koste van jou voertuig.
You might also be interested in:
Thieves target diesel ahead of fuel price increase
