Hard newsLocal newsNews

Max saak vervolg: Diereliefhebbers nou in die sop oor dreigende boodskappe

Kotzé het gerugte verwerp dat hy enige geldelike vergoeding van Spahn ontvang het om die klag teen hom terug te trek en gesê dat hy sedert die voorval nog nie eens kontak met Spahn gemaak het nie.

WITRIVIER – Die man wat vir dieremishandeling aangekla is na die wrede dood van Max die husky verlede jaar, het sake van crimen injuria teen lede van die gemeenskap geopen wat teenoor hom deur middel van SMS’e uitgevaar het.

Laevelder het dié week verneem dat verskeie mense na die polisiestasie ontbied is om ‘n verklaring af te lê nadat ‘n lid van die Spahn-familie, ‘n klag van crimen injuria aanhangig gemaak het.

Dit is die wederregtelike, opsetlike en ernstige aantasting van iemand se waardigheid of privaatheid.

‘n Klag van dieremishandeling is teen mnr. Sipho Spahn laat vaar nadat die husky se eienaar, mnr. Marius Kotzé, sy verklaring teruggetrek het.

Die Spahn-gesin het op besoek aan hul gastehuis verskeie teksboodskappe aan Laevelder gewys wat deur ontstoke diereliefhebbers aan hulle gestuur is.

Me. Carin Anderson is een van dié wat ‘n SMS aan Spahn gestuur het.

Sy is na die stasie ontbied om ‘n verklaring af te lê en het genoem dat konst. Isaac Malatjie, se dringendheid om haar daar te kry, vir haar “opvallend” was.

“Hy het my na die polisiestasie ontbied en gesê dat ek ‘n verklaring moet aflê oor die SMS wat ek aan Spahn gestuur het. Hy wou my met alle mag en krag by die polisiestasie kry en het selfs aangebied om na my toe te kom om die verklaring te kom afneem. Hy was vasbeslote om my face to face te sien,” het Anderson aan Laevelder gesê. Malatjie het Dinsdag op sy beurt aan die koerant gesê dat slegs diegene wat Spahn na bewering gedreig en beledig het, gekontak is. Volgens hom het hy ongeveer met “vier of vyf” mense in verbinding getree.

“Ons het slegs dié mense gekontak wie se SMS’e dreigemente en beledigings bevat het,” het Malatjie gesê.

Anderson het egter volgehou dat sy Spahn nooit persoonlik aangeval het nie, maar wel sy daad veroordeel het.

Sy het ook gesê dat dit moeilik is om te glo dat dit slegs vier of vyf persone is wat dié tipe boodskappe aan Spahn gestuur het.

Kotzé het Woensdag ook gerugte verwerp dat hy enige geldelike vergoeding van Spahn ontvang het om die klag teen hom terug te trek en gesê dat hy sedert die voorval nog nie eens kontak met Spahn gemaak het nie. Hy het gevra dat mense wat dié gerugte versprei hom persoonlik moet kom sien. Hy het ook sy misnoë uitgespreek met dié persone wat beloof het om agter hom te staan en hom later in die steek gelaat het. “Baie het beloof om agter my te staan, maar hulle het een vir een verdwyn.

Vandag is hulle net weg,” het hy gesê. Kotzé sê hy het hom heeltemal van die saak onttrek. Die Spahns kon nie vir kommentaar bereik word nie.

Lees gerus ook hierdie artikels:

Max the husky: No evidence to prosecute alleged dog killer

Husky’s death creates furore on facebook

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button