HAZYVIEW – Dis deesdae moeilik om liefde te vind – daardie spesiale iemand wat jou lewe aanvul. Daar is realiteitsprogramme soos The Bachelor en op plaaslike bodem het ons Boer soek ‘n Vrou om die manne op die plase te help om nooiens te kry. Aanlyn-kletskamers verrys soos paddastoele op die internet waar jy jou siel kan ontbloot in die hoop om ‘n huweliksmaat te vind.
Lees ook: Hoekom trou as jy nie net oë het vir een vrou?
Ammiël Smith van Bloemfontein (23) het dit onlangs ‘n stappie verder gevat deur met ‘n kartonbord by ‘n verkeerslig te staan en “bedel” vir ‘n vrou. “Op soek na my trouvrou. Geen ou tannies of kansvatters”, het die plakkaat gelui. Daar is ‘n foto van hom geneem met die plakkaat wat hy op sy eie Facebook-profiel gelaai het. Hy het gevra dat vriende dit moet share, met die hutsmerke “desperaat, bachelor en liefde wen”.

Dit is nie minder nie as 1 220 keer geshare en het onder die aandag van Natia van Heerden, ‘n chef by Summerfields, gekom. “Een van my vriende het dit geshare op Facebook en ek het nogal gedink dit is baie soos Boer soek ‘n Vrou. Ek het self die foto geshare en my ma het opgemerk dat Ammiël nogal oulik lyk,” het Natia, wat al twee jaar enkellopend is, gesê.
“My ma het gesê ‘go for it‘. Ek het gedink dat die kanse skraal is dat iets sou gebeur, maar wat het ek gehad om te verloor?” Natia het toe vir Ammiël deur Facebook gekontak. “Ek het vir hom ‘n boodskap gestuur en min of meer gesê dat ek ‘n chef is, graag hardloop en nie ‘n girly girl is nie. Ek het al daarvan vergeet toe hy my kontak,” het sy vertel.
Ammiël was egter ontkant gevang toe hy hoor sy bly in Hazyview en het aan haar gesê dat hy sou moes google om uit te vind waar dit is. Verhoudings is moeilik genoeg met albei partye in dieselfde dorp, wat nog te sê om die liefde oor ‘n afstand te laat blom. “Bloemfontein is ongelukkig aan die ander kant van die wêreld,” het Natia gesê. “Ek is baie vas by die werk en sal nie vir Ammiël kan gaan kuier nie. As hy ooit Hazyview toe sou kom, wie weet.”
Ammiël is nogal kieskeurig. “Ek soek ‘n meisie wat mooi na haarself kyk en wat mooi gebou is. Ek is baie aktief so ‘n oorgewig meisie gaan glad nie by my leefstyl aanpas nie. Lekker meisie beteken vir ons jongmense sy moet ‘n lekker persoonlikheid hê. Verder moet sy finansieël standvastig wees en nie net by die huis sit nie. Sy moet liewer vir God wees as vir my en sy moet besef die man is die leier.”
Natia het self ‘n lysie van vereistes waaraan haar trouman moet voldoen. “Hy moet sportief en ordentlik wees met ‘n stabiele werk. Spelling is ook vir my baie belangrik, hy moet dit goed kan doen. Hy moet gesond leef, nie rook nie en weet waarheen hy op pad is in die lewe.”
