Verdagte in boeie na wagte se flink optrede
"Ons vermoed dit is dieselfde groep wat al 'n geruime tyd hier die ronde doen"

Verdagtes wat na bewering al ‘n geruime tyd Town Lodge se gaste teister, is Sondagaand behoorlik die skrik op die lyf gejaag toe wagte flink gereageer en hulle agternagesit het.
Volgens mnr. Nico Grobler van Hi-Tech Sekuriteit Nelspruit het wagte net na 20:00 die paniekknoppie gedruk.
Hi-Tech is onmiddellik na die toneel ontbied en kon daarin slaag om een verdagte vas te trek.
Die ander drie het egter weggekom.
Volgens Grobler het hy inligting ontvang dat dieselfde groep vroeër die aand een van die gaste se handsak gegryp en daarmee gevlug het.
“Ons vermoed dit is dieselfde groep wat al ‘n geruime tyd hier die ronde doen,” het hy gesê en sy dankbaarheid teenoor die wagte vir hul flink reaksie uitgespreek.
Nelspruit Post het Dinsdagoggend verneem dat twee van die gaste wat by die lodge ingeboek het, vermoedelik ook by die voorval betrokke was.
Dit kon egter teen druktyd nie bevestig word nie. Die kommunikasie-woordvoerder van die City Lodge-groep, mnr. Angus MacMillan, het sy dankbaarheid teenoor die wagte en Hi-Tech uitgespreek en gesê dat hy baie beïndruk is met hul flink optrede.
Hy het ook die versekering gegee dat die veiligheid van gaste ‘n prioriteit bly.
“Ons is konstant besig om die sekuriteit te monitor om te sien of verbetering nodig is en veiligheid opgeskerp moet word.”

