Hard newsLocal newsNewsNews

Boer se beeste in slag ná weerlig

Volgens mnr. Jaques Blake, het hy en sy werkers Sondagoggend uitgegaan om die beeste te tel toe hy deur dié toneel begroet is.

LYDENBURG – Altesaam 24 beeste waarvan ses kalwers was, is Saterdagaand op die plaas Wanhoop, sowat 46km vanaf die dorp naby Roossenekal, deur weerlig doodgeslaan.

Volgens mnr. Jaques Blake, het hy en sy werkers Sondagoggend uitgegaan om die beeste te tel toe hy deur dié toneel begroet is.

Volgens Blake se ma, me. Brenda Blake, boer hulle en haar swaer sedert haar man se dood verlede jaar, hoofsaaklik met Drakensbergers, Simmentallers en Bonsmaras.

“Ons is platgeslaan, dit kom op ‘n verkeerde tyd. Dit is ook baie hartseer en ons is emosioneel oor dit wat gebeur het. Een van die kalwers was nog baie klein.”

Jacques meen dat die verlies baie groot is. “Daar was vyf groot kalwers en 18 koeie wat moontlik dragtig kon gewees het. Dit is baie moeilik om ‘n verlies te skat, omdat pryse van diere deur verskeie faktore bepaal word.

Ek sou sê dat ‘n bees na raming tussen R7 000 en R10 000 werd is. Die kleinste van die kalwers was ongeveer ‘n week oud.”

Hy meen dat donderstorms tog gereeld in die reënseisoen voorkom, maar dat dit vreemd is vir dié tyd van die jaar. Storms gepaardgaande met hewige weerlig is egter iets wat onverwags en enige tyd voorkom.

Wanneer ‘n straal, wat omtrent 20 000 of meer ampère bevat, die grond tref, verdwyn die elektrisiteit nie in die grond in nie. Dit versprei eerder in die grond in en word dan potensieel dodelik. Sulke strome is waar weerlig se grootste gevaar lê omdat dit groot gebiede raak en in sirkels uitbrei.

As ‘n mens of ‘n dier op ‘n plek staan waar ‘n weerligstraal slaan, trek dit by die een been op, deur jou liggaam, waar dit moontlik jou hart en asemhaling tot stilstand bring en gaan by die ander been uit. Grondstrome is veral vir diere gevaarlik omdat die stroom deur die hele liggaam tussen die voor- en agterbene beweeg.

Plaaslike veearts, dr. Marietjie Malan het na aanleiding van die foto’s wat die Blake aan haar gestuur het, bevestig dat die diere wel deur die weerlig doodgeslaan is. “Dit is beslis weerlig.

Die beeste het op ‘n klipplaat gestaan en ek kan onthou dat die weer besonder swaar was. Daar is ook skroeimerke op hulle hare. Die diere is waarskynlik op slag dood. Diere wat deur die weer doodgeslaan word, is baie algemeen en daar is niks wat ‘n mens daaraan kan doen nie.”

Die karkasse is nie van die toneel verwyder nie en verskeie roofdiere, soos die skaars aasvoëls wat in die Steenkampsbergreeks broei, het reeds daaraan begin vreet.

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button