
BADPLAAS – ‘n Welverdiende wegbreek na die gewilde Badplaas, ‘n Forever Resort mag dié Paasnaweek dalk net deur ‘n paar ontevrede werknemers versuur of selfs verkort word.
Die bestuur van die oord het Dinsdag-oggend ‘n waarskuwing aan voornemende besoekers uitgereik. Die personeel, met die Badplaas-gemeenskap bankvas agter hulle, het van vroegoggend af met ‘n onbeskermde staking begin deur die hekke van die oord onwettig te versper.
Uitvoerende-bemarkingshoof van die Forever Resort-groep, mnr. Christo Wagenaar sê dat die staking spruit uit die afdanking van ‘n vakbondverteenwoordiger van die Voedsel en Verwante Werkersunie (Fawu) en die daaropvolgende afdanking van nog twee verteenwoordigers. Wagenaar sê dat die maatskappy hierdie onwettige aksie in ‘n baie ernstige lig beskou.
‘n Dringende hofbevel is deur Forever Resorts bekom om die protesaksie te verhoed. Die primêre sameroepers van die staking, Fawu, het egter verkies om die hofbevel te verontagsaam.
Wagenaar sê dat sodra die vakbond en sy lede die wettige roete begin volg, die maatskappy meer as bereid sal wees om die afdanking van die werknemers te ondersoek.
Die voorbedagte gebrek aan samewerking en die opsetlike betrekking van eksterne partye is ook in teenstelling met die bepalings van Artikel 69(1) van die Wet op Arbeidsverhoudinge.
Oordbestuur het ‘n ultimatum aan die stakers gestel om teen Dinsdag 15:00, wat in ‘n wedersydse ooreenkoms verleng is na 17:00, terug by die werk te wees. Dit is nie nagekom nie.
Woensdagoggend is ‘n nuwe ultimatum van 12:00 gestel maar dit is ook weer na 12:30 geskuif en weereens verontagsaam. Wagenaar sê dat lede van die ANC teen 12:30 in massas opgedaag het om T-hemde en hoedjies uit te deel en steeds het niemand teruggekeer werk toe nie.
Dissiplinêre stappe gaan geneem word teen die individue wat aan die onwettige staking deelgeneem het. Die SAPD en die Openbare Beskermingseenheid is op ‘n hoë gereedheidsgrondslag geplaas.
“Ons het gehoop dat die situasie sou verbeter, maar dit het egter aansienlik verswak. Tog word gaste soos gewoonweg bedien.
“Die interdik was ons enigste opsie om die veiligheid van ons gaste te verseker en toe te sien dat sake verloop soos dit moet,” sê Wagenaar.
“Ons doen alles in ons vermoë om hulle veiligheid te verseker en vertrou dat die situasie nie inbraak sal maak op hulle verblyf nie. Gaste wat die naweek by die oord wil tuisgaan, word aangeraai om vooraf eers navraag te doen.
“Ons vertrou egter dat die owerhede die interdik sal toepas,” voeg hy by. “Die oord is volbespreek, en indien die staking sou voortduur, sal ons of ‘n terugbetaling aanbied, of ‘n verplasing na ‘n ander Forever Resort soos Swadini reël.
“Klante het ook die opsie om die krediet te behou en die aftyd op ‘n ander tydperk te kom geniet. Dit hang alles af van die stakers se samewerking,” sluit Wagenaar af.
Klante kan Badplaas, ‘n Forever Resort by 017-844-8000 kontak.
Local Forever Resort’s the cream of the crop
