Local newsNewsNews

Slange gee inwoners koue rillings

Slange is tans aansienlik meer aktief as waaraan ons gewoond is. Slangvangers soos mnre. Chris Hobkirk en Barend Bloem se voete vat deesdae skaars grond voordat hulle die volgende oproep van 'n benoude inwoner kry oor 'n ongewensde koudbloedige kuiergas.

MBOMBELA – Die Laeveld het sy eie bekoring, maar die talle grillerige en gevaarlike slange wat deel van die diereryk hier vorm, het talle inwoners gereeld op hol.

Slange is tans aansienlik meer aktief as waaraan ons gewoond is. Slangvangers soos mnre. Chris Hobkirk en Barend Bloem se voete vat deesdae skaars grond voordat hulle die volgende oproep van ‘n benoude inwoner kry oor ‘n ongewensde koudbloedige kuiergas.

Hobkirk sê hulle vang deesdae tussen agt en 15 slange in die provinsie per dag, waarvan die meeste in Witrivier en Mbombela voorkom. ‘n Swart mamba wat ongeveer 60 milimeter dik is, is onlangs in ‘n hoenderhok deur ‘n reptielvanger in Barberton gevang, “Dis aansienlik dikker is as waaraan ons gewoond is,” sê Hobkirk. Die langste slang wat die parkeraad in die laaste 12 jaar teëgekom het, is ‘n swartmaba van ‘n allemintige 3,24 meter.

“Hoewel reuse soos dié uiters aggressief lyk, is hulle eintlik nie so gevaarlik nie. Hulle sal eerder waarsku voordat hulle sal aanval,” sê Hobkirk. Maar steeds hardloop meeste mense amper hul bene stompies om te probeer wegkom. “Die beter keuse is om eerder die parkeraad te ontbied om die slange te verwyder, sê Hobkirk. Laevelder se susterpublikasie, Nelspruit Post, het verlede jaar berig oor me. Riana Visagie wat twee keer gepik is deur ‘n slang wat in haar handsak geskuil het. Sy het aanvanklik gedink dat hierdie eienaardigheid iets met die ritssluier te doen gehad het. Sy was onderweg werk toe toe sy haar selfoon uit haar handsak wou haal. Sy het ‘n prik gevoel en haar vinger het begin bloei en verskriklik gebrand. Sy het vertel dat sy later daardie dag by die dokterspreekkamers waar sy werk, kleingeld uit die sak wou haal.

Visagie het haar handsak oopgemaak en met ‘n skok gevind dat ‘n bruin huisslang homself daarin tuisgemaak het.

In ‘n soortgelyke voorval, het Cindy Cutting onlangs haar gastebadkamer nagegaan voordat haar vriende kom kuier het. Sy het ‘n laai oopgemaak om toiletpapier in te bêre toe ‘n Mosambiekse spoegkobra haar begroet het. Sy is gelukkig nie gepik of gespoeg nie.

Tinus van der Merwe het dit nodig geag om ‘n swartmamba van kant te maak wat by Barberton se ouetehuis ‘n kuiertjie gaan aflê het. Van der Merwe het net betyds daar opgedaag, “anders weet ek eerlikwaar nie wat sou gebeur het nie,” sê hy.

Felicia Nell het net so vreesaanjaende onderondsie met ‘n mamba gehad. Sy was op pad om haar hande te was toe ‘n mamba langs haar in volle glorie pronk. “Ek was doodbang en my voete het net hier en daar grond gevat om te probeer wegkom,” sê sy.

Me. Michelle Lee van Wyk meen egter ons sien deesdae soveel slange omdat die mens hul gebied betree het. “Slange is nie die probleem nie, mense is,” sê sy. “Met slegs ‘n bietjie navorsing en moeite kan ons onsself opvoed oor die wonderlike gediertes van die omgewing.

“Meeste spesies is in elk geval skadeloos en dié wat giftig is, gebruik dit tot om prooi dood te maak, nie vir selfverdediging nie,” sê sy.

‘n Kenner op die gebied, mnr. Johan Marais van die African Snakebite Institute, sê dat dit doodnormaal is om slange dié tyd van die jaar teë te kom.

“Hulle is nou besig om hulself te voed voor die winter begin. Slange hiberneer nie juis in Suid-Afrika nie weens die warmer klimaat en gaan slegs in ‘n stadium in wat soortgelyk is aan meditasie. Daarom is dit steeds van kardinale belang om versigtig te wees,” sê Marais.

Indien enige slange teëgekom word, kan Hobkirk by 082-372-3350 geskakel word.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button