MBOMBELA – Me. Petronel Nieuwoudt, stigter van Care for Wild Africa-rehabilitasiesentrum, ken van multitask. Nie net is sy ma van twee woelige seuns nie, maar maak ook talle dierewesies groot. Dit is ‘n voltydse werk.
Sy speel ‘n onmiskenbare rol in ons land se stryd teen renosterstropery. Sy koester en versorg kalfies wie se ma’s voor die voet vir hul horings afgemaai is, totdat hulle weer in die natuur vrygelaat kan word. Dit is onontbeerlik vir die bewaring van die spesie waarvan duisende reeds doodgemaak is sedert renosterstropery in 2008 opgevlam het.
“Ek raak soms moeg en dink ek stry die stryd alleen. Ek sien dit elke dag en om die verwondering op hul gesigte te sien, het my nuwe hoop gegee. Nuwe energie.” Sy praat van die Mad Dogs-lede, ‘n motorfietsklub wat Saterdag haar sentrum besoek het. Geharde manne oor wie se wange die trane gerol het toe hulle gesien het wat Petronel elke dag doen.
Hulle het boonop die wrede realiteit waarmee sy daagliks gekonfronteer word, eerstehands ervaar toe daar ‘n vier maande oue kalfie van die Nasionale Krugerwildtuin (NKW) na haar sentrum gevlieg is.
Paasnaweek was rof vir Petronel. Sy het pas vir Mollie in ontvangs geneem – ‘n seekoeikalf van ‘n plaas in die Barberton-omgewing wat deur bosvarke gebyt is. Daar word vermoed dat haar ma nie genoeg melk gehad het om haar te voed nie. Mollie se groei was nie na wense nie en bosvarke het dié kleintjie beetgekry. ‘n Boer het hom oor haar ontferm en na Petronel gebring. Sy sien reeds sedert Desember 2013 na Emma om – ‘n seekoei wat in KaNyamazane gered is. Mollie is egter baie wilder as Emma en wou haar en die ander versorgers sommer byt.
Lees ook: Seekoeitjie haar hart se punt
Petronel het eintlik vergeet dat die Mad Dogs haar sou kom besoek. ‘n Sielkundige wat vier kinders behandel wie se ma aan breinkanker dood is, het boonop die kinders daardie oggend na Care for Wild gebring omdat hy gemeen het dit is terapeuties vir hulle om diere te sien wat ook hul ma’s verloor het.
“Sean (van Mad Dogs) het my gebel en gesê hulle is by Crossing en op pad het ek eers onthou dat hulle sou kom. Kort daarna het die wildtuin se mense my gekontak en gesê dat hulle op pad is met ‘n renosterwesie vanaf Skukuza,” het Petronel vertel.
Sy was nog besig om die lede van Mad Dogs rond te wys toe sy SANParke se helikopter hoor nader kom. Hulle het met die kalfie geland en lede van Mad Dogs het daar en dan gehelp om die krat waarin sy was, te dra.
“Dit was asof hulle deel was van my span en het ywerig met alles gehelp. Die verwondering op hul gesigte was ongelooflik. Hulle het sommer vir my en Don (English – ‘n bekende streeksveldwagter in die wildtuin) bikers-hemde aangetrek. Die trane het oor van hulle wange gerol,” het Petronel vertel.
Sean het by navraag gesê dat hulle elke Paasfees ‘n welwillenheidsuitreik genaamd Dogs on the Run hou om fondse in te samel vir die stryd teen renosterstropery. Dit was die tweede keer dat hulle Petronel besoek het, maar die eerste keer dat hulle die realiteit van stropery eerstehands kon ervaar. “Dit was ‘n wonderlike ervaring. Petronel ken elke renoster by die naam en het ‘n baie persoonlike verhouding met elkeen van hulle. Die wêreld het meer mense soos sy nodig!”
Die renosterwesie is Anne gedoop – vernoem na die vier kinders wie se ma aan kanker oorlede is. “Sy het sommer dadelik begin drink,” het Petronel geglimlag. Sy is reeds aan ander renosterwesies by die sentrum voorgestel en pas goed aan.
Lees ook: Venus ‘n Aspoestertjie met haar eie spesiale skoen




