MBOMBELA – ‘n Vrou wat Maandag ernstige skraapwonde opgedoen het toe sy tydens ‘n ongeluk van ‘n oop voertuig geslinger is, se trauma is glo vererger deur ‘n nare ervaring by Rob Ferreira Hospitaal.
Me. Carien Coetzee het Dinsdag duidelik in erge pyn verkeer by haar huis naby Alkmaar waar sy oor haar ontbering gesels het. ‘n Deel van haar kopvel is in die ongeluk afgeruk en haar regtervoet se toonnaels is ook ondermeer weg.
Sy en haar man, mnr. Danny Coetzee, skoonma, me. Babsie Coetzee en hulle twee kinders, DJ (16) en Jordan (2), sou die dag saam met mnr. Giliam van de Venter by Ngodwana Dam deurbring. Hulle is egter nie daar toegelaat nie omdat die dam glo slegs deur werknemers gebruik mag word en is toe maar terug huis toe. Hulle was in ‘n Chana ligte afleweringsvoertuig wat Babsie bestuur het. Danny het voor by haar gesit. Carien, DJ, Jordan en Van de Venter was agterop.
Babsie het die flikkerlig aangesit om aan te dui dat sy regs op die N4 by die Groenstal na hul woning wou afdraai toe die voertuig skielik oor die pad begin gly het. Sy sou later by Carien hoor dat ‘n taxi van agter in hulle vasgery het.
Carien, DJ, Jordan en Van de Venter is van die voertuig af geslinger. DJ het sy sussie (Jordan) opgetel en uit die pad gehardloop. Carien en Van de Venter het gelukkig nie in die pad van aankomende verkeer gelê nie. Paramedici het hulle later na Rob Ferreira Hospitaal geneem, maar daar was glo nie dadelik vir hulle beddens beskikbaar nie. “Dit was eers toe die paramedici ‘n keel opgesit het dat hulle uiteindelik opgeneem is,” het ‘n vriendin, me. Suzie Krafft, vertel.
X-strale is van almal geneem en Carien is vol lof vir ene dr. De Villiers wat haar ondersoek het. Die probleem het glo egter ingekom by verpleegpersoneel wat haar moes versorg. “Ek het hulle deur die nag gevra om my om te draai, waarop hulle telkens geantwoord het dat ek dit self moes doen,” het sy vertel.
“Toe ons die volgende oggend by haar kom, het sy heeltemal kaal daar gelê en haar kateter was halfpad uit,” het Krafft bygevoeg. “Ons het hulp gaan soek en die verpleegpersoneel wat toe reageer het, het baie rof met haar gewerk,” het ander vriende vertel. “Die een het my nog gevra om haar te help om ‘n wond waar hulle ‘n drip vir Carien ingesit het, toe te plak,” het een opgemerk.
Carien is intussen met ‘n kombers bedek. Die wond aan haar kop was egter nog nie versorg nie. “Die verpleegpersoneel het toe eers begin om haar wonde te versorg. Hulle het egter nie aandag gegee aan die wonde aan haar tone of boude nie. Toe ons vra hoekom nie, het hulle geantwoord dat die dokter hulle opdrag gegee het om ‘slegs skoon te maak waar hulle kon sien’ en dat die tone nou toe onder die kombers was.”

Met Laevelder se besoek aan Carien Dinsdag, het daar stukke gaas en watte aan haar boude vasgesit. Bloed het uit die wonde gesypel en haar nagrok het aan haar geklou. Danny, DJ en Jordan is reeds Maandagaand ontslaan. Van de Venter het verskeie frakture opgedoen en is dié aand geopereer. Hy word tans in die trauma-eenheid behandel.
“Jordan se skraapwonde is egter nie skoongemaak nie en ek het haar die volgende oggend na Nelmed geneem waar dit gedoen is,” het Krafft gesê.

Mnr. Dumisani Malamule, woordvoerder van die gesondheidsdepartement, het by navraag gesê dat die pasiënte binne 10 minute van hulle aankoms by die hospitaal, opgeneem is. “Ongevalle word tans opgeknap en kan 100 pasiënte huisves. Die area wat nou tydelik gebruik word totdat konstruksie voltooi is, kan 40 pasiënte akkommodeer. Daar was egter nie Maandag ‘n tekort aan beddens nie.”
Hy het gesê dat die betrokke dokter Carien se wond versorg en toegewerk het en het bygevoeg dat sy behoorlike sorg ontvang het.
