BADPLAAS – Hoewel ontwrigtings by die volbespreekte Forever Resorts-vakansieoord verwag is, het die stakers hul strydbyle tydens Paasfees begrawe.
Die oord se bestuur het ‘n waarskuwing aan voornemende besoekers uitgereik. Die personeel, met die gemeenskap bankvas agter hulle, het Dinsdag met ‘n onbeskermde staking begin deur die hekke van die oord onwettig te versper.
Hoewel vakansiegangers normaalweg bedien is, het oordbestuur Vrydagoggend aangekondig dat geen dagbesoekers weens die plofbaarheid van die situasie vir Paasnaweek toegelaat sou word nie.
‘n Sekuriteitswag by die vulstasie langs die oord het Sondag aan Laevelder vertel dat die situasie uiters onvoorspelbaar is en dat owerhede op ‘n hoë gereedheidsgrondslag geplaas moes word. “Selfs die kiosk moes die naweek tot verdere kennnisgewing gesluit word en deeglik beskerm word,” het hy gesê. Die uitvoerende bemarkingshoof van die groep, mnr. Christo Wagenaar het verlede week vertel dat die staking uit die afdanking van ‘n vakbondverteen-woordiger van die Voedsel en Verwante Werkersunie spruit, en van nog twee, kort daarna. ‘n Dringende hofbevel is deur Forever Resorts bekom om die protesaksie te verhoed, maar volgens die sekuriteitswag is dit steeds verontagsaam en die staking sou Dinsdag voortduur. Maar, Wagenaar sê dat alle stakers teruggekeer het werk toe.
Hy voeg by dat die maatskappy hierdie onwettige aksie in ‘n baie ernstige lig beskou. Hy het bygevoeg dat die maatskappy meer as bereid is om nou die afdanking van die werknemers te ondersoek.
Verskeie ultimatums deur oordebestuur is nie deur die stakers nagekom nie. “Ons het bly hoop dat die situasie sou verbeter, en is bly dat alles weer terug na normaal is. ‘n Interdik was ons enigste opsie om die veiligheid van ons gaste te verseker en toe te sien dat sake verloop soos dit moet,” sluit Wagenaar af.

