EntertainmentLifestyleLocal newsNewsNewsPeople

Plaaslike ster wys sy ware kleure in nuwe TV-program

As die enigste Afrikaanse deelnemer, het hy ook maar 'n paar lesse geleer...

MBOMBELA – ‘n Oorvloed talent in die Afrikaanse televisiebedryf veroorsaak soms dat jonger akteurs nie altyd die geleentheid kry om hul talente ten toon te stel nie, omdat baie rolle in groot produksies aan die meer ervare toneelspelers toegeken word.

Ten spyte daarvan het die voormalige Laevelder, Francois Jacobs onlangs die geleentheid gekry om sy veelsydigheid as akteur, nie net aan sy eweknieë nie, maar ook aan internasionale rolprentvervaardigers, in ‘n aktualiteitsreeks te bewys.

Top Actor South Africa was Vrydag 3 April vir die eerste keer op die kassie. Die reeks volg 12 aspirant-akteurs waar hulle saam in een huis gegooi is en vir ses weke aan al die plesier en beproewings van die vermaaklikheidsbedryf blootgestel word. Drama volg – op die verhoog en agter die skerms.

Die doel van die program is om ‘n platform vir die mees belowende jong akteurs te skep waar hulle met van die grootste name in die internasionale bedryf kan meng, soos Michael Jai White (akteur in Why Did I Get Married?) en Malcolm D. Lee (regisseur van Undercover Brother en The Best Man). Die strawwe kompetisie tussen die 12 het egter die vonke in die huis laat spat. Vandat die deelnemers kamermaats gekies het, sê Franna, het die sosiale politiek begin.

“Om die enigste Afrikaanse deelnemer te wees, het beslis sy eie uitdagings gehad, maar ek kon aan myself bewys dat ek buite die Afrikaanse gemeenskap kan presteer waarin party akteurs al te gemaklik geraak het.”

Dít, sê Francois, was die grootste uitdaging, maar tog ook die grootste beloning – om homself uit sy gemaksone te verwyder en só ‘n hele nuwe kant van sy talente te verken.

“Dit is ‘n hele ander wêreld. Ek is vir die eerste keer aan die swart en Engelse markte in Suid-Afrika voorgestel en het baie aspekte van myself verbeter. Ek het basies my ‘nadeel’ as ‘n voordeel gebruik. Ek het my kollegas ‘n paar gewoontes en tradisies van die Afrikaner-kultuur geleer en op my beurt het ek baie van almal anders s’n geleer.”

Dit was tog nie die enigste onbekende gebied waar Franna homself bevind nie. Hy is gewoonlik die grapjas op die verhoog en het homself gereeld in die drama ook bewys, maar nou moes sy horisonne nog verder verbreed. “Ons het iets in elke genre gedoen, van teater tot advertensies. Rillers was nog nooit groot in Suid-Afrika nie en daar word nie dikwels van ons verwag om goed in die genre te wees nie, maar tydens die reeks moes ons uithaal en wys tussen die bloed en binnegoed. Dit was vir my baie interessant.”

Top Actor SA word Donderdae om 19:55 op BET, kanaal 129 op DStv uitgesaai.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button