Local news

KYK: Só kon Tom Farmer ‘n foto neem

Die Laeveld betreur die afsterwe van die geliefde radio-omroeper, eiendomsagent en fotograaf, Thomas (Tom) Farmer (55), wat na ’n kort siekbed weens komplikasies verwant aan diabetes oorlede is.

Baie mense sal Tom onthou as die man agter die kamera wat die wêreld met ’n besondere oog vir detail en skoonheid vasgevang het. Sy fotografie het dieselfde warmte, nuuskierigheid en waardering vir mense en plekke weerspieël.

Tom was een van die dryfkragte agter die Nelspruit Photographic Society en het tot onlangs as voorsitter gedien. Sy passie vir fotografie het diep spore in die plaaslike fotografiegemeenskap getrap, waar hy as mentor, ondersteuner en vriend bekend was.

Radio Laeveld 100.5FM het in ’n hartroerende huldeblyk gesê Tom was nie net ’n bekende stem op die lug nie, maar ook ’n passievolle fotograaf, kosfundi, koorsanger en sosiale vlinder.

“Ek sal hom veral onthou vir sy passie vir mense, sy onvoorwaardelike beskikbaarheid vir almal en sy diep liefde vir sy familie,” het sy suster, Corné Venter, aan die stasie gesê.

Sy radiokollega, Derek Wolff, het hom beskryf as ’n sagte mens met ’n waardering vir die kunste. Volgens Wolff kon Tom met sy reisprogramme en meesterlike woordkuns sonskynstrande, bedrywige stadspleine en die sjarme van ou Europese straatjies só beskryf dat luisteraars dit voor hulle geestesoog kon sien. Dieselfde visuele aanvoeling het sy fotografie gekenmerk, waar hy as ’n legende onthou sal word.

Tom was sedert 2003, kort ná Radio Laeveld se stigting, by die stasie betrokke. Volgens Roelf van Jaarsveld het hy sy programme altyd met onkreukbare Afrikaans, uitstekende musiekkeuses en deeglik nagevorste temas aangebied.

“Mooi, kalm en altyd voorbereid.” Só beskryf baie kollegas en gemeenskapslede hom.

In ’n huldeblyk het Chas Everitt Lowveld geskryf dat Tom veel meer as net ’n kollega was en dat hy ’n geliefde en gerespekteerde deel van hul familie gevorm het.

Van Jaarsveld het verder gesê dat Tom, ondanks siekte en terugslae, nooit gekla het nie. Hy het altyd rustig, aangenaam, goed belese en ’n voorbeeld vir ander gebly.

Volgens sy vriendin, Alicia Whitting, het Tom kort voor sy afsterwe in die hospitaal gesê dat hy nooit moed sou verloor nie, selfs al sou hy alles verloor.

Laevelders sal nie net sy stem mis nie, maar ook die manier waarop hy mense, plekke en oomblikke deur sy lens verewig het.

Tom word oorleef deur sy suster, Corné, en haar man Jan, hul kinders Merika, Liané en Hannes (en sy vrou Nerika), asook sy broer Fred en sy vrou Daleen.

’n Troosdiens vind Saterdag om 10:00 by die NG Suid-gemeente in Ehmkestraat, Nelspruit, plaas.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Bertus de Bruyn

Bertus de Bruyn is based in Mbombela, Mpumalanga. De Bruyn has been employed by Caxton since 2009. After a short sabbatical of two years, De Bruyn is back at the place he called home, Caxton, at Lowveld Media. He is currently the digital content manager, but has 14 years of journalism skills, news editor, and acting editor duties behind his name.
Back to top button