
‘n Onlangse “fout” deur die eienaar van Paradise Garden Services het allesbehalwe ongesiens verbygegaan toe ‘n inwoner hom op heterdaad betrap het.
Mnr. Johan Kleynhans, eienaar van dié besigheid is op kamera vasgelê terwyl hy tuinvullis reg langs die Uitkyk-pad strooi.
Die foto’s is op die Facebook-blad Nelspruiters geplaas en dit het behoorlike reaksie ontlok.
Hoewel Kleynhans sy fout erken en berou getoon het, het hy in dieselfde asem gesê dat hy “meeste van die tyd, so 95 persent” sy vullis wegry na Tekwani Stortingsterrein. Toe Nelspruit Post Kleynhans genader het, het hy blatant erken dat dit nie die eerste keer is wat hy dit hier stort nie, en ook dat hy nie die enigste een is wat dit doen nie. Hy noem ook dat hy baie omgee vir die omgewing en dat hy jammer is oor die verkeerde besluit wat hy geneem het. Hy het intussen die vullis gaan optel.
“Dit was regtig simpel van my,” het hy gesê.

