Hard newsNewsNews

Ouers blameer Laevelder vir selfdood

Volgens Panner se verklaring ontken hy enige betrokkenheid by die beweerde kooptransaksie van 'n voertuig waarby Laubscher betrek word

MBOMBELA – “‘n Ongeslypte diamant wat álles vir sy medemens gegee het.” Só beskryf ‘n gebroke me. Mantie Cronjé haar seun, mnr. Johan (Panner) Cronjé (35) wat Woensdag homself in sy ouerhuis om die lewe gebring het.

Panner was bekend in die plaaslike gemeenskap en verskeie vriende het boodskappe van medelye op sy Facebook-blad gelos. Sy geliefdes blameer Laevelder se onlangse beriggewing oor strafregtelike klagtes wat Panner in die gesig gestaar het, vir sy dood.

Hy het saam met mnr. André Laubscher op klagtes van diefstal, crimen injuria en intimidasie terreggestaan.

Panner se ouers, mnr. Gert Cronjé en Mantie, glo in sy onskuld. Hulle het gister tydens ‘n openhartige onderhoud met die koerant ‘n beëdigde verklaring van hul seun wat by die polisie ingedien is, uitgehaal. Dit vertel ‘n heel ander storie as dié wat polisiewoordvoerders aan die koerant voorgehou het. Laubscher is op 12 Februarie gearresteer nadat hy na bewering ‘n ondersoekbeampte in ‘n diefstalsaak teen hom geïntimideer het. Sers. Gerald Sedibe, provinsiale polisiewoordvoerder, het destyds nog aan die koerant vertel dat Laubscher op twee klagtes van diefstal tereggestaan het.

Die klagtes is reeds in 2011 teen hom gelê, later teruggetrek en toe weer hierdie jaar ingestel. Volgens Sedibe het die klaer in een van die sake na bewering nie die volle koopprys vir ‘n voertuig ontvang nie en Laubscher het glo die onderdele stuk-stuk verkoop. Die tweede klag het uit ‘n beweerde voorval gespruit waartydens Laubscher ‘n trekker, wat hy namens ‘n kliënt sou verkoop het, in besit geneem het sonder om glo ooit die kooppys daarvoor te betaal.

Panner is later as tweede beskuldigde tot die saak gevoeg. Kapt. Dawie Pretorius, woordvoerder vir die stad se polisie, het toe bevestig dat die klagtes teen Panner met dié teen Laubscher verband hou.

Lees ook: André Laubscher-saga: nog ‘n ou bekende in die beskuldigdebank

 

Volgens Panner se verklaring ontken hy enige betrokkenheid by die beweerde kooptransaksie van ‘n voertuig waarby Laubscher betrek word.
Hierdie beweerde transaksie het egter eers in Januarie vanjaar plaasgevind. Die name van die klaers word hierin vervat en is ou kennisse van Panner. Gert het voorts beweer dat sy seun onregmatig gearresteer is. Laevelder gaan al hierdie bewerings ondersoek.

Panner het hoof-opskrifte in 2013 aangehaal toe hy wreed deur mnr. Cat Smit by ‘n vulstasie op die R40 onderweg na Witrivier aangerand is. Die aanranding is op kringtelevisiekameras vasgelê. Hy het ‘n maand in Mediclinic Nelspruit se intensiewe- sorgeenheid deurgebring. “Hy was na die aanranding nooit weer die sprankelende mens wat hy was nie,” het Gert hartseer vertel.

Lees ook: Video wys hoe pa van twee aangerand word

Hy het lank met depressie gesukkel en die onlangse berig-gewing deur Laevelder, was volgens sy ouers en meisie, me. Amanda de Lange, net een te veel.

Hy het aan Mantie gesê: “Hoe sal ma voel as hulle so iets oor jou skryf en dit is nie waar nie?”

“Hy wou nie eens meer na my ouers toe gaan nie en het gesê hy voel te skaam om hulle in die oë te kyk na die berig in Laevelder verskyn het,” het De Lange bygevoeg. “Niemand kon liefhê soos hy nie,” het sy gesê. “Hy kon nooit iets verkeerd in mense sien nie,” het Gert beaam.
Hy laat ook ‘n seuntjie (7) agter.

‘n Gedenkdiens word Woensdag om 11:00 vanuit die NG Westergloed-gemeente vir hom gehou.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button