Hard newsLocal newsNews

Pasiënte wag langer as 12 ure om hul medikasie te kry

"Van 13:00 tot 15:00 was hier geen beweging nie. Van die verpleërs het ons selfs na Valencia toe weggewys."

Ellelange rye het Maandag pasiënte by die Nelspruit Gemeenskapsgesondheidsentrum in Bellstraat behoorlik met hulle hande in die hare gelaat.

Nelspruit Post het verskeie klagtes ontvang nadat van die pasiënte vir langer as 12 uur in die rye gesit het om geholpe te raak. ‘n Pasiënt wat anoniem wou bly het gesê dat, afgesien van die stampvol wagkamers, personeel nietemin ‘n twee uur lange middagete geniet het.

“Van 13:00 tot 15:00 was hier geen beweging nie. Van die verpleërs het ons selfs na Valencia toe weggewys,” het ‘n hoogs ontstoke pasiënt aan die koerant gesê.

Die bestuurder van die kliniek, me. Else Nkambule, het egter gesê die probleem steek sy kop uit weens die feit dat pasiënte nie na klinieke in hul omgewing toe gaan nie.

“Hier is hoeveel mense van Pienaar en KaNyamazane wat veronderstel is om na klinieke in daardie areas te gaan. Hulle kom hierheen en verwag om vinnig gehelp te word,” het sy verduidelik. “Hier is eenvoudig net te veel mense en daarom moet ons prioritiseer – dié in die grootste nood word eerste gehelp.”

Die pasiënte voer op hul beurt aan dat klinieke nader aan hul woonplekke gereeld ‘n tekort aan medikasie het. “Ons word dan in elk geval hierheen verwys,” het die een moedeloos gesê.

Nkambule het die verskoning verwerp. “Alle klinieke bestel medisyne by dieselfde plek. As hulle nie voorraad het nie, sal ons ook nie hê nie.”

Mnr. Dumisani Malamule, woordvoerder vir die gesondheidsdepartement het teen druktyd gesê dat hulle aandag aan die klagte gee.

Kyk gerus na die video op Nelspruit Post se webwerf waar twee pasiënte hul frustrasies deel.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button