Hard newsNewsNews

“Bom!” skreeu laat plaaslikes groot skrik

"Wat gaan daar binne aan?" het die vrou gevra. "Toe kyk ek op en dis net blou ligte waar jy kyk." - me. Anjelien Schwirzer.

Dit was net nog ‘n Woensdag in die lewe van Mbombela se korporatiewe werknemers, totdat iemand “bom!” geskreeu het. Me. Sibongile Caroline Sihlangu het om 09:41 die oggend via Facebook gerapporteer dat die stad se Absa-gebou verlede week as gevolg van ‘n bomdreigement ontruim is.

Nelspruit Post het ondersoek ingestel en bevestig dat daar geen boosdoener agter dié bedreiging gesit het nie. “Dit was darem net ‘n drill.” het mnr. Chris Roux bevestig. “Maar kyk, of dit nou ‘n drill was of nie, as iemand skreeu ‘bom,’ dan roer jy jou litte en hou by die ontruimingsprosedure! Die gebou is darem vinnig ontruim,” het Roux bygevoeg.

‘n Ander inwoner het dieselfde dag ‘n werklike bomdreigement beleef. Me. Anjelien Schwirzer, ‘n prokureur, vertel dat sekuriteitswagte se versuim om haar handsak deur te soek haar aandag getrek het. Anjelien moes op die sesde vloer van die Noord Gautengse Hoë Hof wees om vir die skikking van ‘n saak te onderhandel. “Ons het ons ding gedoen en is by die hof uit – dis tóé dat ons besef wat aangaan!”

‘n Kollega het Anjelien aan die arm gegryp. “Wat gaan daar binne aan?” het die vrou gevra. “Toe kyk ek op en dis net blou ligte waar jy kyk. Ek vind toe uit dat die hof ‘n bomdreigement ontvang het. Ek’t salig onbewus van dit lekker onderhandel,” sê sy en vertel dat ‘n regter daarna aangekondig het dat alle sake van die rol verwyder sal word totdat die perseel veilig verklaar is. Die hof het na 13:00 weer hervat. Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) se woordvoerder mnr. Velekhaya Mgobhozi het die bomdreigement bevestig, maar voer aan dat die voorval steeds ondersoek word.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button