LifestyleLocal newsMunicipalNewsNewsPeople

Boetie dink flink, red babasussie se lewe

"Sy was blou-pers," sê Melanie. "Ek het gedink sy verstik en het haar dadelik opgetel, op die ruggie begin slaan en mond-tot-mond-asemhaling toegepas."

MBOMBELA – Toe hy sien hoe sy ma mond-tot-mond-asemhaling op sy babasussie toepas, het dié seuntjie geweet hy moes inspring om te help. Sy flinkheid het haar lewe gered.

Matt Dingle (9) van Witrivier het op 2 Maart oudergewoonte saam met sy ma en twee sussies om die blok gaan stap. Hulle was sowat 400 meter van die huis af toe sy ma,

me. Melanie Dingle, in die stootwaentjie na Antoiné loer, wat toe maar 13 dae oud was, en sien sy haal nie asem nie.

“Sy was blou-pers,” sê Melanie. “Ek het gedink sy verstik en het haar dadelik opgetel, op die ruggie begin slaan en mond-tot-mond-asemhaling toegepas.”

Sy was só besig met die baba dat sy nie eens daaraan gedink het om te bel vir hulp nie. Matt het egter kopgehou, op sy fiets gespring en huis toe gejaag om sy pa te gaan roep.

Hulle was binne sekondes op die toneel om met die pasiëntjie dokter toe te jaag. Die dokter kon egter nie veel doen nie en het die ouers beveel om na Mediclinic Nelspruit te gaan waar ‘n kardioloog hulle sou ontvang.

Hier het Antoiné twee aande in die intensiewesorgeenheid deurgebring terwyl talle toetse op haar gedoen is, wat lumbale punksie en hart- en breinskanderings ingesluit het. Dit was eers met ‘n elektroënsefalografie dat dokters gesien het dat Antioné aan ‘n seldsame vorm van epilepsie, met die oorpsrong in haar regter temporale lob, ly.

In plaas van stuiptrekkings, hou sy net op asemhaal. “Die dokters noem dit apnee-aanvalle,” het Melanie gesê. “Hulle glo sy sal dit ontgroei, maar tot dan moet sy ‘n hart- en asemhalingsmonitor dra wat my waarsku wanneer sy ophou asemhaal.”

Antioné het ‘n week later wéér ophou asemhaal en is na Unitas Hospitaal in Pretoria gehaas.

Tussen dié en Mediclinic Nelspruit, het sy altesaam vyf weke in die hospitaal deurgebring. Vandat sy twee weke gelede terug is by die huis, het sy nog net twee aanvalle gekry.

Sy moet van nou af elke maand ‘n pediater en ‘n neurofisioterapeut, en elke ses maande ‘n pediatriese neuroloog besoek.

“Die dokter het gesê as ek nie noodhulpopleiding gehad het nie, sou my kind dood gewees het.”

Hierdie woorde het Melanie oortuig om elke Saterdag noodhulpkursusse vir ouers aan te bied. “My vriendin se babatjie is onlangs oorlede omdat sy nie geweet het wat om te doen toe die kind ophou asemhaal nie.

Enigeen wat belang stel in opleiding, kan Dingle per e-pos by mdems@webmail.co.za kontak.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button