Hard newsNewsNews

Bergfietsryer (59) sterf tydens uitdagende Forest 2 Falls-fietsren

Dis was die eerste keer in die 18 jaar wat Forest 2 Falls aangebied word, dat iemand daartydens sterf.

SABIE – ‘n Bergfietsryer is Saterdag dood terwyl hy aan die Forest 2 Falls-bergfietsuitdaging deelgeneem het. Mnr. André Booysen (59), ‘n inwoner van Lydenburg, het vermoedelik ‘n hartaanval gehad.

Die jaarlikse wedren is vanjaar by die vier-dag Sabie Xperience ingesluit. Volgens mnr. Dennis Lawrie, die wedrenkoördineerder, het Booysen aan die 35-kilometer- afdeling deelgeneem. Hy was sowat agt kilometer van die eindstreep af toe hy inmekaargesak het.

Dr. Jan Steynberg van Lydenburg het aan dieselfde afstand deelgeneem en gestop om Booysen te help. Mnr. Jacques Ainslie van Hi-Tech Mediese Dienste is na die toneel ontbied waar hy Booysen kort na 12:00 dood verklaar het. Hy sê hulle vermoed Booysen het ‘n massiewe hartaanval gehad. Hy is vermoedelik dadelik dood.
Ainslie sê dit is in sy ondervinding ongewoon dat iemand tydens strawwe oefening aan ‘n hartaanval beswyk en dat dit meer gereeld ná die tyd gebeur wanneer atlete rus. Hy voeg by dat die lyk papnat was, wat dui op uitermate sweet – ‘n teken dat die hart oortyd gewerk het.

Booysen se seun Henco (25) het glo op die toneel bevestig dat sy pa geen geskiedenis van hartprobleme gehad het nie. Henco het self aan die 52-kilometer-afdeling deelgeneem. Lawrie het hom vroeër die dag toevallig opgelaai nadat hy in ‘n ongeluk met sy fiets was.

Lawrie sê dit is die eerste keer in die 18 jaar wat Forest 2 Falls aangebied word, dat iemand daartydens sterf.

Brig. Selvy Mohlala, Mpumalanga polisie se woorvoerder, sê ‘n ondersoek is geloods en ‘n lyk-skouing sou na verwagting Dinsdag gehou word. Daar was geen sigbare beserings nie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button