Groot pret by Barberton Kleuterskool se Jaarlikse Gholfdag
Lees meer hieroor in Barberton Times van 13 Mei. Hou ook ons webtuiste dop vir meer video's oor die dag.

Die jaarlikse pret-gholfdag van Barberton Kleuterskool het Saterdag by Barberton Gholfklub plaasgevind. Uit die staanspoor was dit duidelik dat die klem beslis op pret sou val en vroegoggend reeds was die spelers in ‘n vrolike luim.
Hierdie byeenkoms was die breinkind van Jaco Boshoff, ‘n ouer van die skool asook die voorsitter van die beheerliggaam. Hierdie is die tweede jaar wat dit aangebied word. Agt spanne het ingeskryf. Daar was vier spelers in elke span en uit die 32, was drie dames.
Barberton Times het met Marilda Guthrie, Gerda Coetzee en Marina Coetzee van die skool by die klubhuis gesels.
Koeverte met pryse geborg deur menigte besighede asook tafels vol ander was oral te sien. Op die vraag oor hoekom so ‘n magdom pryse, het Marina geantwoord: “’n Dag soos vandag is net ‘n fun dag. Dis nie ernstige gholf nie, maar ‘n American scramble en hier gaan almal wegloop met pryse.”
Verlede jaar het die dames belowe dat hulle die tuin by die ingang na die klubhuis onder hande sal neem voor die volgende gholfdag, en dit het hulle inderdaad gedoen. “Dit was so op die nipper, maar ‘n belofte is ‘n belofte en kyk net hoe pragtig lyk dit nou,” vertel Gerda.
Die drie was dit eens dat die dag ‘n reusesukses was en dat hulle soos verlede jaar, weer wonderlike ondersteuning van die dorp se besighede asook die ouers ontvang het.
Hulle het ‘n groot dankie gesê aan die beheerliggaam, die ouers en elke besigheid, plaaslik of elders wat putjies en pryse geborg het. Die fondse wat ingesamel is sal gebruik word vir instandhouding by die skool, speelgoed en om nog ‘n paar ander gaatjies mee toe te stop.
Alhoewel almal pryse ontvang het, is daar wel ook wenners aangewys.
Een van die damesspelers, Sheri van Zyl, het die manne behoorlik op hul neuse laat kyk toe sy naaste aan die putjie gewen het. Die eerste plek het aan Justin Hearne en Lourens van Staden gegaan. Rikus Nel en Bernard Volskenk het tweede plek behaal en Percy Hollamby en Ettiene Herbst was derde.

















