Hard newsLocal newsNewsNews

Vrou in kritieke toestand na gesin se voertuig rol

Vir die tweede keer in net meer as 'n week het nog 'n ernstige ongeluk op die Ohrigstadpad plaasgevind.

LYDENBURG – Vir die tweede keer in net meer as ‘n week het nog ‘n ernstige ongeluk op die Ohrigstadpad plaasgevind.

Insleep- en bystanddienste was op pad terug van ‘n ongeluk by Pilgrim’s Rest toe een van Ehlanzeni se nooddiensvoertuie van Boshlabela se brand- en nooddienste, ‘n sperstreep oorskry en met die voertuig van die Durand-gesin van Lydenburg gebots het.

Volgens mnr. Deon Broekman, van N3 Rapid Response, het die gesin se voertuig as gevolg van die impak gerol.

“Valerie Durand, haar man George en twee van hul kinders was in die kar toe die ongeluk plaasgevind het. Valerie, George en hul seun Ric, het ernstige beserings opgedoen. Hulle dogter Clara, het net ‘n sny aan haar kop opgedoen.”

Broekman het dadelik versoek dat die EMS/ER24-helikopter op bystand geplaas word voor hy die toneel bereik het. “Toe ek die aard van Valerie se beserings sien, het ek dadelik die helikopter laat kom. Ek het ook ‘n helikopter van Pretoria op bystand gehad, sou George ook dringende mediese behandeling moes kry.”

Die helikopter met vlieënier, me. Samantha Schnetler en vlugpara-medikus, Steve Dave het binne 15 minute op die toneel geland. Dit het egter byna twee uur geneem om Valerie te stabiliseer dat sy die vlug na Mediclinic Nelspruit kon onderneem. George en sy seun is per ambulans na dieselfde hospitaal geneem.

Valerie het ernstige hoofbeserings opgedoen en van haar vingers is vergruis.

Sy het ook inwendige beserings opgedoen en is tans in die hoësorgeenheid van die hospitaal aan ‘n asemhalingstoestel gekoppel.

George het rug- en nekbeserings opgedoen, sy sleutelbeen en al die ribbes aan die een kant van sy borskas is gebreek. Rico het rugbeserings opgedoen.

Die bestuurder van die ander voertuig is nie beseer nie.

Mediese personeel het teen tyd geveg om Valerie te stabiliseer omdat die son begin sak het en dit die vlug van die helikopter kon bemoeilik. Terwyl sy in die helikopter gelaai is, het mnr. Kiewiet Hattingh, ‘n omstander, sy hand oor haar kop gehou en vir haar ‘n gebed gedoen.

Stasiebevelvoerder van Lydenburg SAPD, kol. Hans Putter, het aan die koerant bevestig dat ‘n saak van roekelose of nalatige bestuur geopen is.

Die Durand-egpaar het vier kinders. Divan en sy suster Louise was nie in die kar toe die ongeluk plaasgevind het nie. Mnr. Johan Loots, hoof van Hoërskool Lydenburg waar Valerie werk, het gesê dat Valerie ‘n baie toegewyde werker is en dat die gemeenskap ongelooflik saamgestaan het na die ongeluk.

Broekman het Woensdag bevestig dat Valerie steeds in ‘n kritieke toestand, maar stabiel is.

“George het met fisioterapie begin en loop al rond. Dit lyk baie beter in die stadium.”

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button