Hard newsNewsNews

Lewens word gereël rondom beurtkrag

Eishkom dikteer nou my lewe. Hulle besluit wanneer ek moet kosmaak, TV kyk en bed toe gaan

MBOMBELA – Laevelders, net soos die res van die land, moet nou hulle daaglikse bestaan rondom beurtkrag reël. Daar is nou al tot ‘n sogenaamde beurtkrag-app wat jy op jou selfoon kan aflaai en whatsapp- en Facebookgroepe het oornag soos paddastoele verrys wat verbruikers op hoogte hou van presies hoe laat hulle in donkerte gehul gaan word.

Dit bepaal nou hoe laat jy in die aande moet kook (as jy ooit kan kook) en wanneer jy huishoudelike take kan verrig soos wasgoed was.

Laevelder het sy lesers op Facebook gevra hoe dit hulle lewens beïnvloed en die reaksies het almal gespreek van uiterse frustrasie. Me. Amelia Maritz het geskryf: “Eishkom dikteer nou my lewe. Hulle besluit wanneer ek moet kosmaak, TV kyk en bed toe gaan. Ek eet partykeer nie eens by die werk nie en kom eers 18:30 tuis – gedaan en honger. Hoe moet ek kos maak binne ‘n halfuur? Almal het nie gasstowe of opwekkers nie. Teen die tyd dat daar weer krag is, is dit te laat om enigiets te doen. Hoekom betaal ons nog? Nee wat, ek is g**vol!”

Me. Jacqueline Blumenthal-Wallace het laat hoor: “die kinders moet daardie tyd bad, eet en nog huiswerk doen. Met beurtkrag gaan slaap hul baie laat en ek sukkel om hulle wakker te kry in die oggende omdat hul so baie moet doen. Dan is die krag af en kerslig werk nie so lekker as hul huiswerk moet doen nie.”

Verskeie inwoners het ook hul kommer uitgespreek dat hul huishoudelike toestelle soos yskaste skade ly weens die beurtkrag. Mnr. Nelis Engelbrecht, ‘n elektrisiën van CJ Electrical, het Laevelder egter verseker dat dit nie moontlik is nie. “Jou yskas word slegs geaffekteer as die krag aanhoudend aan-en-af geskakel word soos met ‘n ligskakelaar,” het hy verduidelik.

“Beurtkrag wat op ‘n keer ‘n uur of meer beslaan, sal dit nie beïnvloed nie. Die yskas mag dalk warmer raak tydens hierdie tyd, maar die algehele werking behoort niks oor te kom nie.”

Hy het verder genoem dat beurtkrag nie eens regtig ‘n besparing aan krag vir die verbruiker sal meebring nie. “Dit sal minimaal wees.” Verskeie verbruikers wonder hoekom beurtkrag nie snags toegepas word wanneer ons slaap nie, maar die aanvraag is juis op sy grootste gedurende die dag wanneer ons lugversorgers werk en ons moet kosmaak.
“Sodra ‘n beurtkrag-fase verby is, kom almal in ‘n spesifieke woonbuurt se geysers en ander elektriese toestelle tegelyk aan en dit plaas geweldig druk op Eskom. Verbruikers kan help deur hulle geyers eers sowat ‘n uur of wat later weer aan te skakel,” het Engelbrecht gemaan.

Al hoe meer inwoners wat dit kan bekostig, laat installeer nou kragopwekkers om basiese toestelle soos ‘n yskas en TV aan die gang te kan hou. Dit is ‘n egter ‘n duur oefening. Dit is boonop nóg duurder as jy jou huis heeltemal “groen” wil maak en onafhanklik van Eskom wil funksioneer. Dit het mnr. Gavin Kukard, ‘n inwoner van Mara, sowat R105 000 gekos. Hy meen egter dat hy op die langduur geld sal spaar en dat dit ‘n meer betroubare kragvoorsiening sal verseker.

“Ek het 10 300W sonpanele ingesit, asook ‘n 5kVA kragomsetter en 16 ses-Volt gholfkarretjie-batterye. “Die panele kan dus 3kW se krag voorsien en die kragomsetter kan tot 4kW hanteer. Dit kan dus ‘n bykomende kW van ‘n kragopwekker verskaf. Die batterybank is op 48 Volt en het ‘n stoorkapasiteit van 450 Ah (ampere-ure).
“Dit sal my so twee dae hou tot dit heeltemal pap is, maar jy wil nie jou batterybank meer as 50 per sent leegtap nie, bloot om dit langer te laat hou. Die kragomsetter is só gestel dat dit krag direk vanaf die sonpanele trek. As die son nie skyn nie, trek dit krag vanaf die batterye.”

Hy het bygevoeg dat jy jou verbinding met Eskom kan behou in geval van slegte weer, maar dat dit nie nodig is met 3kW nie. Kukard het natuurlik ook ‘n gasstoof, -oond en -geyser laat insit. “Basiese kostes op ‘n transformator op ‘n plaas beloop al R2 000 per maand, sonder enige verbruik op 25kVA. So die stelsel sal homself binne vier jaar afbetaal. Die panele behoort jou 25 jaar te hou en die batterye sewe jaar as jy dit in stand hou soos nodig.”

Beurtkrag verhoog die voorkoms van misdaad

Hi-Tech Sekuriteit Nelspruit het gewaarsku dat misdaad toeneem tydens fases van beurtkrag. Mnr. Vernon Lancaster, algemene bestuurder van Hi-Tech, het gesê dat misdadigers beslis beurtkrag tot hulle voordeel gebruik en dán inbreek.

“Hulle breek veral in tydens volmaan wanneer sigbaarheid beter is. Die feit dat beurtkragskedules op sosiale media aangekondig word, maak dit baie maklik vir hulle om hul aktiwiteite rondom dit te beplan,” het hy verduidelik.
Hy het weer verwys na die onlangse aanval op mnr. Gerhard Kunneke, wat oorval is toe hy na buite is om sy kragopwekker na ‘n tydgleuf van beurtkrag af te skakel. “Kabeldiefstal neem ook toe tydens beurtkrag omdat die boosdoeners dan nie geskok sal word nie.”

Hy het voorts verduidelik dat alle elektroniese toerusting soos hekke, heinings en motorhuisdeure geaffekteer word tydens beurtkrag. “Al hierdie toestelle maak gebruik van bystandbatterye wat beskadig word tydens beurtkrag. “Dit ‘n probleem omdat, as ‘n alarmstelsel heeltemal afloop, dit gedeaktiveer kan word sonder dat ons dit waarneem. Alarmstelsels kan nie voldoende seine uitstuur met ‘n dooie battery nie. Alarmpanele word nie regtig beskadig nie, maar die alarmstelsels se kragtoevoer kan wel beïnvloed word.”

Hy het bygevoeg dat daar ‘n toename in vals alarms en paniekseine is as gevolg van batterye wat afloop. “Sodra die krag weer aan is, is daar ook ‘n toename in seine. Dit plaas ‘n geweldige werksladig op ons beheerkamer. Daar kan voorsorg getref word deur bykomende bystandsbatterye met herlaaiers te laat installeer om die alarmsisteem se leeftyd gedurende beurtkrag te verleng.”

Eienaar van Hi-Tech, mnr. Johnny Kerswill, het gewaarsku dat veral mense op kleinhoewes en plase ekstra versigtig moet wees. Hy het die volgende wenke gedeel:

• Bly te alle tye binne die huis tydens fases van beurtkrag.
• Wees altyd bewus van wat om jou aangaan.
• Laat installeer eerder ‘n meganisme sodat die krag self wissel tussen dié van Eskom en ‘n kragopwekker.
• Diegene sonder ‘n kragopwekker wat net op kerse en flitse kan staatmaak, moet ‘n sogenaamde buffersone in die huis oorweeg. “Laat ‘n staalhek aanbring om ‘n vertrek van die res van die huis te skei sodat jy daar kan gaan skuil ten tye van ‘n aanval.”
• Maak seker jou selfoon is gelaai sodat jy oproepe kan maak tydens ‘n noodgeval.
• Maak ook seker dat ligte en flitse herlaai word soos nodig.
• Dra altyd jou selfoon en paniekknoppie by jou tydens fases van beurtkrag

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button