Hard newsNewsNews

Miljoene deur wildtuin se hekke in een jaar

Dit lyk selfs of besoekersgetalle nóg beter gaan vertoon in die 2015/2016 finansiële jaar. Die subtotaal van dagbesoekers vir April hierdie jaar staan op 108 284 waarvan 35 093 oornagbesoekers was

SKUKUZA – Die Nasionale Krugerwildtuin (NKW) se gewildheid neem toe en al hoe meer besoekers stroom elke jaar na dié gewilde toeriste-aantreklikheid en tuiste van die Groot 5.

Nie minder nie as 1 659 793 het in die 2014/2015 finansiële jaar deur die NKW se hekke beweeg – in vergelyking met 1 556 916 die vorige jaar.

Hiervan was 1 277 397 dagbesoekers en 382 396 het oornag. Net die aantal dagbesoekers alleen het met 239 817 vanaf die 2012/2013 finansiële jaar tot dié van 2014/2015 gegroei. SANParke en die Departement van Omgewingsake het dié syfers Sondag aangekondig. Die meeste dagbesoekers is in Desember aangeteken, met 148 138 wat die wildtuin binnegekom het. Die meeste uit die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap het die wildtuin deur die Punda Maria-hek binnegetree (10 378) en die meerderheid ander internasionale gaste is by Phabeni-hek in (76 920).

Oornagbesoekers se verblyfkostes het R321 482 miljoen vir SANParke se geldelike koffers beteken. Die NKW beskik oor 25 kampe, maar die meerderheid het in Skukuza gebly.

“Hierdie syfers is nie net bevredigend vir SANParke nie, maar vir die land in geheel. Dit is ‘n bewys dat ons ryk natuurlewe aanhou om ons landsburgers en toeriste, spesifiek besoekers van elders in Afrika, te lok,” het SANParke se uitvoerende hoof, mnr. Fundisile Mketeni, gesê.

Dit lyk selfs of besoekersgetalle nóg beter gaan vertoon in die 2015/2016 finansiële jaar. Die subtotaal van dagbesoekers vir April hierdie jaar staan op 108 284 waarvan 35 093 oornagbesoekers was.

Minister van omgewingsake, me. Edna Molewa, het SANParke gelukgewens. “Die wildtuin is al byna ‘n eeu gelede geproklameer, maar dit bly ‘n plaaslike en internasionale trekpleister vir toeriste. Dit is grootliks te danke aan uitstekende bestuur deur SANParke. Dit wys ook dat die regering se nasionale toerisme sektorstrategie goed op dreef is,” het Molewa afgesluit.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button