HECTORSPRUIT – Op Donderdag 21 Mei was hy vanaf Hectorspruit op die Strydomblokpad onderweg, toe hy nog ‘n voertuig van die teenoorgestelde rigting op die brug by die afrit na Kwa Madwala Lodge teëgekom het.
Hy het nie ‘n slaggat, 800sm diep en 1,2m wyd oor die pad wat met gras toegegroei is, aan sy kant van die pad gesien nie. Toe die voertuig die gat tref, het hy beheer daaroor verloor en van die brug afgery.
Selfs al sou hy die gat gesien het, sou die aankomende verkeer hom nie toegelaat om uit te swaai nie.
Hy het wonderbaarlik die dood ontkom met slegs drie steke aan sy kop en ‘n sny aan sy arm. Die vragmotor is egter ‘n wrak, wat groot skade vir die eienaars beteken.
Die pad is al twee jaar lank as gevolg van spoelskade in ‘n skokkende toestand. Dit is herhaardelik aan openbare werke gerapporteer, maar daar was nog geen reaksie nie en mense se lewens word daagliks bedreig.
Volgens ‘n ooggetuie is haar vriendin onlangs in ‘n soortgelyke ongeluk op dieselfde plek oorlede.
Die publiek word gemaan om uiters versigtig te wees wanneer hul hierdie pad gebruik.
Corridor Gazette het Nkomazi Plaaslike Munisipalitiet hieroor genader maar het teen druktyd nog geen terugvoer gekry nie.
