Hard newsNewsNews

Aanrandingsaak teen Mathews Phosa se sekuriteitshoof voorlopig teruggetrek

Venter het onder andere beweer dat twee skote uit 'n rooi Ford Ranger - dieselfde motor as wat van Zijl bestuur - in die rigting van sy motor geskiet is.

WITRIVIER – Mnr. Jan Venter, voormalige huisbestuurder van sakeman dr. Mathews Phosa, is in nóg ‘n regstryd gewikkel. Behalwe vir die siviele en strafregtelike gedinge wat uit dispute tussen Venter en Phosa voortvloei, sou Venter Woensdag by die Witrivier Landdroshof die klaer in ‘n aanrandingsaak wees. Hy het beweer dat mnr. Pieter van Zijl, Phosa se sekuriteitshoof, hom aangerand het, maar dié klag teen van Zijl is Woensdag voorlopig teruggetrek.

Laevelder het vroeër berig dat Venter van bedrog en diefstal aangekla is nadat hy glo tydens sy indiensneming by Phosa verskeie bedrae geld in sy rekening vir die aangaan van uitgawes namens die Phosas ontvang het. Daar is glo vir baie van die geld nie verantwoording gedoen nie. ‘n Siviele saak met dieselfde bewerings het tot die toestaan van ‘n hofbevel teen Venter vroeër vanjaar gelei. Hiervolgens moes Venter R53 526,80 aan Phosa terugbetaal. Hy het vir die tersydestelling van hierdie vonnis teen hom aansoek gedoen. Uitsluitsel rondom dit is nog nie verkry nie.

Venter het in Maart groot opslae gemaak met die bewering dat hy Phosa gesien het terwyl sy voormalige werknemer ‘n dokument opgestel het waarin hy die provinsie se premier, mnr. David Mabuza, van spioenasie tydens die apartheidsera aangekla het.

Lees ook: Former Phosa employee lashes out

Hierdie bewerings het ‘n opskudding in die pers veroorsaak, waarna Venter beweer het dat Phosa se sekuriteitshoof hom aangerand het. Hy het onder andere beweer dat twee skote uit ‘n rooi Ford Ranger – dieselfde motor as wat van Zijl bestuur – in die rigting van sy motor geskiet is.

Van Zijl het Woensdag aan Laevelder meegedeel dat dié bewering een van vele is dat hy Venter geïntimideer en aangerand het. “Hy het my toe van aanranding aangekla en allerhande onware bewerings gemaak. Ek laat hom toe maar begaan en het gehoop dat die waarheid in die hof sou uitkom.” Van Zijl het Maandag ‘n skikkingsvoorstel van Venter se prokureur af ontvang. “Nadat hy my so belaster het met valse aantygings, het ek ‘n lastersaak teen Venter oopgemaak. Sy prokureur stel toe voor dat ons skik – hulle sou die aanrandingklag teen my laat vaar as ek die eis vir laster teen Venter laat vaar.” Van Zijl was nie hiervoor te vinde nie. “Toe ek Woensdag in die hof kom, is die aanrandingklag teen my voorlopig teruggetrek. Dis jammer. Ek sou graag wou sien dat die reg die waarheid na vore bring,” het van Zijl gesê.

Venter se regsverteenwoordiger, mnr. Koen Koekemoer, het beklemtoon dat die terugtrekking van die klag teen Van Zijl voorlopig is. “Die rede daarvoor was dat die staat nog nie getuies gereed gehad het om Van Zijl te vervolg nie. Sodra getuieverklarings bekom word, kan die reg sy gang gaan.”

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button