Hard newsLocal newsNewsNews

Kunsmisfabriek gryp in om water te voorsien

Die huurders in Impala, 'n voormalige Transnet-behuisingskema net buite die dorp, is aan die genade van die Impala-kunsmisfabriek oorgelaat nadat Transnet vroeër vanjaar watervoorsiening aan die klein gemeenskap gestaak het.

MALALANE – Die watersaga het vroeër vanjaar begin toe die Demokratiese Allianse (DA) se raadslid, me. Mariette Preddy se hulp ingeroep is nadat die bestaande waterwet verander het en TSB nie meer toegelaat is om water aan Impala se inwoners te verskaf nie.

Ten spyte van Preddy se ingryping en pogings om die munisipale bestuurder van die Nkomazi Plaaslike Munisipalitiet (NPM), mnr. Dan Ngwenya en verteenwoordigers van Transnet en TSB bymekaar te bring om ‘n oplossing te vind, het slegs TSB betrokke geraak.

Al wat nodig was om te verseker dat die huurders in die nedersetting, (sommige woon al 22 jaar daar en betaal getrou hulle huurgeld), nie sonder drinkwater gelaat word nie, was dat Ngwenya ‘n ooreenkoms met TSB aangaan sodat dié instansie water aan die inwoners mag lewer.

Na talle onsuksesvolle kennisgewings van vergaderings en versoeke wat in rekords by die NPM aangeteken is, kon Ngwenya nooit sy weg oopsien om enige van die vergaderings by te woon nie.

Uiteindelik het die vergunningstydperk vir waterlewering deur TSB verstryk en is die mense vir dae sonder water gelaat.

TSB was nie toegelaat om sonder Ngwenya se toestemming tot die inwoners se redding te kom nie.

Volgens inligting was slegs ‘n getekende ooreenkoms, wat enkele minute sou neem, van Ngwenya nodig om die situasie te beredder.

Die Impala-fabriek pomp intussen water uit sy eie boorgat na die tenks, maar daar word gevrees dat dit op die lange duur nie eers genoeg water vir die fabriek gaan kan verskaf nie. Daar is al klaar nie genoeg water om die tenks by die huise vol te maak nie en mense ry dit vanaf Mhlatikop na die nedersetting aan.

Die inwoners, sommige in rystoele en ouer as 80 jaar, het geen ander heenkome nie. Omdat dit al verblyf is wat hulle kan bekostig, sit ook die sendelinge in die klein gemeenskap met hul hande in die hare.

Die inwoners is die opsie gegee om na Hectorspruit te trek, maar hulle kan nie die ekstra petrolkoste, bekostig nie. Buitendien vind hy op 83 en sy vrou op 84, dat hul huisie in Impala rolstoelvriendelik is terwyl die een in Hectorspruit nie is nie.

Die huurders van Impala het ook nuwe kontrakte met Transnet onderteken waarin water gewaarborg word. Dit het egter tot hede nog nie gerealiseer nie.

Preddy het die inwoners in haar privaatvoertuig na die menseregtekommisie aangery en intussen weer daar aangeklop.

Corridor Gazette het die saak onder mnr. Cyril Ripinga, NLM se woordvoerder, se aandag gebring.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button