Nuweling is tuis by veilige hawe
'n Taakspan wat onlangs ontplooi is om 'n renosterkarkas in die Nasionale Krugerwildtuin te gaan ondersoek, was in vir 'n groot skok.

MBOMBELA – ‘n Taakspan wat onlangs ontplooi is om ‘n renosterkarkas in die Nasionale Krugerwildtuin te gaan ondersoek, was in vir ‘n groot skok.
Lt. Francois Vermaak van bogenoemde taakspan sê dat terwyl hulle per helikopter op pad na die toneel naby Skukuza was, het hulle nog ‘n karkas teëgekom. Daar het hulle die dier se kalfie gekry wat vir meer as ‘n dag langs die karkas waggehou het. Die kalfie is ondersoek waarna sy per Working on Fire-helikopter na Care for Wild Africa toe geneem vir rehabilitasie. Die stroping het ongeveer ‘n dag voor hierdie ontdekking plaasgevind. ‘n Ondersoek is tans onderweg om die skuldiges vas te trek.
Me. Petronel Niewoudt van Care for Wild Africa was aanvanklik versigtig om oor dié nuwe inwoner te praat, maar het onlangs bevestig dat die renostertjie, wat nou Meha gedoop is, in ‘n baie goeie toestand is. “Sy was baie gedehidreerd toe sy hier aankom, maar na ons ‘n drip ingesit het en nadat sy vinnig uit ‘n bottel begin drink het, het haar toestand aansienlik verbeter,” sê Niewoudt.
Dié twee het intussen ‘n spesiale band ontwikkel, en dis waar haar naam vandaan kom – ‘n kombinasie van “me” en “her”.
Niewoudt voeg by dat Meha baie goed by haar nuwe omgewing aanpas en dat sy ook baie goed met die res van die inwoners oor die weg kom.
“Hoewel die kalfie nog na haar ma roep as sy honger raak, is daar verskeie maniere om haar rustig te kry. Dit sluit baie aandag en rustige musiek soos barok in,” sê Niewoudt.
Meha se tyd by Care for Wild Africa sal afhang van hoe vinnig sy onafhanklik raak.
Lees soortgelyke stories oor Care for Wild Africa
