Hard newsLocal newsNewsNews

Phosa se sekuriteitshoof en voormalige huisbestuurder steeds haaks

Mnr Jan Venter word aangekla van bedrog, diefstal en laster. Hy beweer mnr. Pieter van Zijl het hom aangerand. Die twee was Woensdag in die hof.

WITRIVIER – Dreigemente vlieg steeds heen en weer tussen sakeman dr. Mathews Phosa se voormalige huisbestuurder,
mnr. Jan Venter en sekuriteitshoof mnr. Pieter van Zijl. Die twee is al sedert Maart haaks met mekaar en die uiteinde was dat Venter vir Van Zijl Donderdag met ‘n interdik wou bykom. Dit volg nadat die aanrandingsaak teen Van Zijl Woensdag in die Witrivier Landdroshof voorlopig teruggetrek is.

Venter het in Maart groot opslae gemaak met die bewering dat hy Phosa gesien het terwyl dié ‘n dokument opgestel het waarin hy die provinsie se premier, mnr. David Mabuza, van spioenasie tydens die apartheidsera aangekla het. Hierdie bewerings het ‘n opskudding in die pers veroorsaak.

Venter het hierna beweer dat Phosa se sekuriteitshoof – Van Zijl – hom aangerand het. Hy het onder andere beweer dat twee skote uit ‘n rooi Ford Ranger – dieselfde motor as wat Van Zijl bestuur – in die rigting van sy motor geskiet is. ‘n Aanrandingsaak is aanhangig gemaak en laasgeneomde het op sy beurt teruggekap met ‘n lastersaak teen Venter.

Van Zijl het Maandag ‘n skikkingsvoorstel van Venter se prokureur af ontvang. “Sy prokureur het voorgestel dat ons skik – hulle sou die aanrandingklag teen my laat vaar as ek die eis vir laster teen Venter laat vaar.” Van Zijl, wat Woensdag in die hof moes verskyn op die klag van aanranding, was nie hiervoor te vinde nie.

Hy het Woensdag Laevelder meegedeel dat die klag teen hom voorlopig teruggetrek is. “Venter het my van aanranding aangekla en allerhande onware bewerings gemaak. Ek het hom maar laat begaan en het gehoop dat die waarheid in die hof sou uitkom. Ek is eintlik teleurgesteld oor die terugtrekking.”

Venter se regsverteenwoordiger, mnr. Koen Koekemoer, het beklemtoon dat die terugtrekking van die klag teen Van Zijl voorlopig is. “Die rede daarvoor was dat die staat nog nie getuies gereed gehad het om Van Zijl te vervolg nie. Sodra getuieverklarings bekom word, kan die reg sy gang gaan.”

Gemoedere het ure hierna die hoogte ingeskiet toe Van Zijl ‘n foto van Venter op Facebook geplaas het saam met die aantyging dat hy hom op grond van “‘n saak wat nooit bestaan het nie” aangekla het. Koekemoer het namens sy kliënt hierop gereageer deur te versoek dat Van Zijl die boodskap binne 24 uur verwyder. Sou hy dit nie doen nie, was dit Koekemoer se instruksie om ‘n interdik tot daardie effek in die Hoërhof te bekom. Koekemoer kon nie teen druktyd bevestig of die boodskap wel verwyder is nie.
Laevelder het vroeër berig dat Venter van bedrog en diefstal aangekla is nadat hy glo tydens sy indiensneming by Phosa verskeie bedrae geld in sy rekening vir die aangaan van uitgawes namens die Phosas ontvang het. Daar is glo oor baie van die geld nie verantwoording gedoen nie.

‘n Siviele saak met dieselfde bewerings het vroeër vanjaar tot die toestaan van ‘n hofbevel teen Venter gelei. Hiervolgens moes Venter R53 526,80 aan Phosa terugbetaal. Hy het vir die tersydestelling van hierdie vonnis teen hom aansoek gedoen. Uitsluitsel rondom dit is nog nie verkry nie.
Venter moet in Julie op die strafregtelike aanklagte teen hom verskyn.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button