MBOMBELA – Die vier Mosambiekers wat sedert 2011 as die “ninjas” bekend staan, het Donderdag in die Nelspruit Streekshof na Onderbergse lede van die gemeenskap en polisie, sowel as sekuriteitsbeamptes se weergawes geluister van hoe hulle op 23 November 2011 vasgetrek is.
Hulle word van verskeie rooftogte in die Onderberg aangekla, waartydens hul slagoffers glo met gesteelde samoeraiswaarde beroof is.
Mnre. Moses Silinda (31), Pieto Gwambe (28), Sam Chauke (37) en Venas Gavane (28) staan tereg op onder meer drie klagtes van roof met verswarende omstandighede, menseroof en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie. Laevelder het in 2011 berig dat hulle in Mosambiek gearresteer is nadat gesteelde goedere glo in hul besit gevind is. Hulle is ‘n boete van R400 elk opgelê.
Terwyl hulle in die tronk verhoorafwagtend was, het die Onderbergse polisie foto’s van die beskuldigdes bekom. AO Ettienne Hietge het in Februarie getuig dat die foto’s in ‘n uitkenningsparade gebruik is en die ninjas glo deur sommige slagoffers geëin is. Dieselfde foto’s is destyds aan Laevelder verskaf en die gemeenskap is gewaarsku om op die uitkyk te wees.
Volgens vorige getuienis deur konst. Delphas Mlandzi is die beskuldigdes op 23 November 2011 in die omgewing van nog ‘n rooftoneel opgemerk. Mandlazi is daardie oggend na ‘n rooftoneel ontbied waar hy op ‘n skoenspoor afgekom het. ‘n Gipsafdruk is daarvan gemaak en gemeenskapslede het gehoor dat die vier moontlik in die omgewing was.
Ao. Ivan Swart het vroeër getuig dat ‘n paar All Star-tekkies tydens inhegtenisname van een van die beskuldigdes gevat is. “Ons het die gipsafdruk met die verdagte se regterskoensool vergelyk. Dit stem in talle opsigte ooreen.”
Mnr. Abraham Jacobus Smit het Donderdag getuig hoe die massa-aksie waartydens die vier gearresteer is, beplan en uitgevoer is. “Ons is almal met tweerigtingradios verbind en Securicon is ook op ons radionetwerk ingeskakel. Daar is tans meer as 2 000 Onderbergers wat deel is van die projek.”
Betrokkenes het na die voorval op 23 November tyding gekry dat die ninjas tussen Coopersdal en Strydomblok skuil. “Ons het met ons voertuie gereageer en met behulp van tweerigtingradio’s gekommunikeer. Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), verskeie sekuritreitsmaatskappye en ‘n helikopter van die Suid-Afrikaanse Weermag is ontplooi om vanuit die lug na die vier te soek,” het hy getuig. Volgens Smit het dit laat geword en ‘n nuwe strategie is bedink. “Een passasier uit elke voertuig het te voet deel gevorm van ‘n soeklyn. Daar was 40 van ons wat vyf meter van mekaar af in ‘n horisontale ry die area deursoek het.” Drie van die ninjas wat in die dig begroeide gebied geskuil het, is een vir een uitgesnuffel. Twee het hulle in die middel van die soeklyn vasgeloop. ‘n Derde verdagte is kort daarna deur die soeklyn opgespoor.
Polisielede het vroeër aan Laevelder bevestig dat ‘n vierdie verdagte daarna gearresteer is. Getuienis hieroor word op 18 Junie verwag, wanneer die saak sal voortgaan.
