Hard newsLocal newsNewsNews

Man dood aangetref in Lelievlei

'n Man wat ses weke gelede van die huis af weggeloop het, is Vrydag by Lelievlei-deurgangskamp in een van die oornag Wendy-huise dood aangetref.

LYDENBURG – ‘n Man wat ses weke gelede van die huis af weggeloop het, is Vrydag by Lelievlei-deurgangskamp in een van die oornag Wendy-huise dood aangetref.

Personeel van Steelburger/Lydenburg Nuus het mnr. Pieter Castelyn (33) Maandag voor sy dood by die kantoor aangetref waar hy die Sondagnag deurgebring het.

Castelyn het gesukkel om wakker te word en roggelgeluide gemaak waarna die personeel van die koerant die nooddienste ontbied het om hom te ondersoek.

Hy kon ook glad nie opstaan nie, was duidelik gedisoriënteerd en het in pyn verkeer.

Hy het byvoorbeeld gesê dat sy van Rossouw is. Castelyn het aan Steelburger/Lydenburg Nuus vertel dat hy van Phalaborwa weggeloop het nadat hy en sy suster stry gekry het.

Hy het egter geweier om saam met nooddienswerkers hospitaal toe te gaan en koerantmense het vir hom koffie en iets te ete aangebied terwyl hulle sy familie probeer opspoor het.

‘n Joernalis het me. Hilda Ferreira, wat lank in Phalaborwa gebly het, geskakel om moontlik sy familie in die hande te kry.

Castelyn het net sy ma se naam – Emma Anderson – en haar straatadres verskaf.

Ferreira het daarin geslaag om sy swaer, Steven Nortjé, op te spoor. Terwyl die koerant met Nortjé gepraat het en van sy swaer vertel het, het Castelyn weer weggeloop.

Steelburger/Lydenburg Nuus het Nortjé egter verseker dat die personeel hom sou inlig sodra hulle Castelyn weer gewaar.

Hy is intussen nie weer gesien nie. Die koerant het Vrydag omstreeks 13:00 ‘n oproep van mnr. Frik Rousseau, direkteur van Lelievlei ontvang, dat daar ‘n man by die deurgangskamp dood gevind is.

Die joernalis het met haar aankoms Castelyn as die oorledene uitgeken en Nortjé in kennis gestel.

Castelyn het glo voor sy dood vir inwoners van die kamp vertel dat hy deur wagte van ‘n sekuriteitsmaatskappy aangerand is.

“Hy het gesê dat hulle hom geslaan, geskop en op hom gespring het. Hy kon nie loop nie en ons het vir hom kos gevat waar hy op sy bed gelê het.

“Teen Vrydagmiddag het dit egter so sleg met hom gegaan, dat ons die ambulans ontbied het.

“Hy is kort voor die ambulans se aankoms oorlede,” het een van die inwoners van die kamp vertel. Die koerant kon nie die bewerings bevestig nie.

Nortjé het Maandag na Lydenburg gekom om die liggaam te uit te ken. “Hy het drie weke gelede my vrou, Amanda, gebel en gesê dat hy veilig en in Potgietersrus is. Sodra hy my naam hoor, verdwyn hy, want hy weet ek sou hom dadelik kom haal het. Ons soek al ses weke na hom. Sonder julle hulp sou ons nooit eers geweet het dat hy dood is nie.”

Die nadoodse ondersoek het getoon dat Castelyn aan natuurlike oorsake oorlede is. Die SAPD-woordvoerder, sers. Elizabeth Mogoa, het aan Steelburger/Lydenburger Nuus gesê dat geen saak geopen is weens die uitslag van die nadoodse ondersoek nie.

Mnr. Frik Rousseau, direkteur van Lelievlei, bedank die Steelburger/Lydenburg Nuus vir al die moeite en ondersteuning wat hulle aan Castelyn verleen het asook die inwoners van Lelievlei wat hom versorg het tydens sy siekte. “Namens Lelievlei betoon ons meegevoel met sy vriende en familie.”

Castelyn word vandag in Phalaborwa begrawe.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button