Hard newsLocal newsNewsNews

Roekelose gejaag stel lewens in gevaar

"Dit is moeilik om spoedbeheer op die pad toe te pas, omdat spoed met kameras bepaal word en kameras werk nie lekker op grondpaaie nie."

Dit blyk dat spoed die rede is waarom twee jongmense se voertuig verlede week op die Hermansburg-pad gerol het en hulle in die hospitaal opgeneem moes word.

Volgens inwoners is daar sekere motoriste wat vir maande reeds op dié pad waaghalsig ry. Die twee jongmense het ook bevestig dat dit juis een van die voertuie was wat die ongeluk veroorsaak het.

Een inwoner, wat anoniem wou bly uit vrees vir viktimisasie, het aan Nelspruit Post vertel dat twee wit bakkies, een ‘n enkel- en die ander ‘n dubbelkajuit, teen ‘n gevaarlike hoë spoed, in die middel van die pad, jaag. Om ‘n botsing te vermy, moet motoriste op die gevaarlike grondpad uitswaai.

Die twee voertuie betree die pad glo van die Kaapsehoop-afdraai en ry tot waar dit die Barberton-pad ontmoet. “Behalwe vir die aaklige toestand waarin die pad reeds is, is daar ook yslike dongas langs die pad,” vertel die inwoner.

“Ons weet nie wie die mense is nie en wanneer hulle aangejaag kom, kan mens nie eens die nommerplate neerskryf om hulle te vervolg nie, omdat hulle reg op ‘n mens afgepeil kom.”

Die Hermansburg-pad is berug vir sy gevaar. Inwoners maan gedurig dat die munisipaliteit die pad moet opknap. Slaggate is ook ‘n probleem, veral in die reënseisoen en wetstoepassing bestaan omtrent nie. Die spoedbeperking op die pad is 60 kilometer per uur.

Die Mbombela Plaaslike Munisipaliteit (MPM) kon teen druktyd nie vir kommentaar bereik word nie.

Mnr. Joseph Mabuza, woordvoerder vir die provinsiale verkeersdepartement, sê alhoewel die pad die verantwoordelikheid van MPM is, sal die provinsie saam met die munisipaliteit moet werk om die toestand van, en wetstoepassing op, die pad te verbeter.

“Dit is moeilik om spoedbeheer op die pad toe te pas, omdat spoed met kameras bepaal word en kameras werk nie lekker op grondpaaie nie,” het hy gesê. “Ons sal wel beamptes stuur om te kyk of daar genoeg padtekens is, asook om self die wetstoepasssing daar te handhaaf.”

Dié uiting is deur die inwoners verwelkom en hulle bied graag hul samewerking om die probleem op te los.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button