
MBOMBELA – Talle mislukte operasies en ‘n kritieke tekort aan ortopediste in die provinsie se staatsektor het veroorsaak dat mnr. Koos Putter (65) vandag so te sê ‘n kluisenaarsbestaan in ‘n ouetehuis voer.
Hy sukkel met pyn en onbeweeglikheid sedert ‘n ongeluk met ‘n bergfiets in 2008. Sewe jaar later, nadat Laevelder weer by die Departement van Gesondheid navraag gedoen het, blyk dit dat hy uiteindelik gehelp sal word.
“Op hierdie stadium wil ek net sit en doodgaan. Ek is nog heeltemal te jonk om hier te sit,” sê hy in sy nederige woonstelletjie.
Voor Putter se ongeluk in 2008, waar hy met ‘n bergfiets geval het en onder meer sy heup gebreek het, was hy ‘n aktiewe tennisafrigter en avonturier.
‘n Onsuksesvolle heupvervanging, waarvan die skroewe onder meer losgekom het, het hom alle beweging in sy regterbeen gekos. Die enkel van dieselfde been was ook gebreek en die wond het septies geword.
Putter het ondraaglike pyn verduur en sy been is later onder die knie geamputeer. Dié wond het egter ook septies geword, vermoedelik omdat die lugversorgers in Rob Ferreira Hospitaal nie gewerk het nie en die temperature in die teater gevaarlik hoog gestyg het. Die been is toe verder bo die knie afgesit.
Putter het ‘n prostese, maar kan nie daarmee loop nie omdat hy geen beweeglikheid in die heup het nie. Hy het sedertdien verskeie privaat- en staatsspesialiste in ‘n poging om dit te herstel geraadpleeg, maar sonder enige sukses. “Ek soek nie miljoene rande nie, ek soek net my lewe terug.”
Putter doen gereeld navraag oor wanneer hy gehelp kan word, maar word glo telkens ingelig dat sy hospitaallêer vermis is.
Operasie Letsema, wat onlangs begin het met die doel om die hospitaal se ortopediese pasiënt-agterstand in te haal, het ook nie vir Putter gebaat nie.
Woordvoerder van gesondheid,
mnr. Dumisani Malamule, het by navraag gesê dat hulle Putter se geval sal ondersoek. “Ons sal spesiaal kyk hoe ons hom kan help.”
Hy het benadruk dat Operasie Letsema tot September aanhou en dat alle pasiënte wat ortopediese chirurgie benodig, geteiken word.
“Ons glo dat mnr. Putter een van die mense sal wees wat gehelp word, en daarom sal ons na die kwessie kyk,” sê Malamule.
“Die departement het poste geadverteer vir alle mediese spesialiste en ons is reeds besig met aanstellings.” Hy voeg by dat die department sal aanhou om dokters na te jaag.
“Een aanstelling is reeds bevestig, en dié dokter sal sy pos op 1 Julie opneem.” Dit sal dan die provinsie se ortopediese chirurge op ‘n totaal van vier bring.
Read more about Operation Letsema
