Tot middernag en klaar!
Innibos se biertente het slegs 'n liksens om tot 00:00 alkohol aan feesgangers te verkwansel.

Moenie omgekrap raak as die polisie jou vanaand teen middernag uit die kuiertente boender nie, dis wet.
Innibos se biertente het slegs ‘n liksens om tot 00:00 alkohol aan feesgangers te verkwansel. So, as jy nog heerlik aan ‘n biertjie sit en teug en ‘n oom met ‘n blou uniform en ‘n pet kom tik jou op die skouer, moenie probeer geselsies aanknoop nie. Gee jou samewerking.
‘n Goeie idee is om seker te maak jou tapsel is teen middernag leeg, want “kan ek asseblief net hier klaar drink” en mooipraatjies gaan nie help nie.
Jy staan ‘n kans om dalk jou kraanbier, appeldrankie, vuilcoke of sletsappie te verloor as jy hardekoejawel raak.
Jy mag dalk selfs ‘n aand in die tjoekie deurbring as jy nou rêrig aanjaag.
Innibos se media- en bemarkingsbestuurder, Sandra Jacobs sê dat kroegvlieë darem betyds gewaarsku sal word. “Die kroegmanne behoort kort voor middernag laaste rondes te roep, waarna julle die kuier maar liefs moet aanskuif. Daar is baie plekke in die dorp wat net so ‘n lekker vibe het.”
Die terrein mag ook na middernag glad nie meer musiek speel nie, want die oumense wil slaap.
“Die feesterrein is in ‘n woonbuurt en ons wil nie hê die musiek moet die hele nag blêr nie,” het Jacobs verduidelik.
Moet ook nie drink en bestuur nie, want om elke hoek en draai is daar ‘n spietkop wat jou dophou. “Maak eerder van die Bossewaens gebruik of vang ‘n saamrygeleentheid,” het Jacobs gemaan.
