Inwoners het met Afriforum in verbinding getree nadat die munisipaliteit blykbaar vir langer as ‘n week rou riool in die dorp se drinkwater gestort het.
Die gemors is blykbaar veroorsaak nadat die munisipaliteit opdrag gegee het om die dorp se nuwe rioolstelsel in werking te stel. Die stelsel is egter, volgens verskeie bronne, ongeveer twee jaar gelede afgekeur nadat die kontrakteurs afgedank is weens swak vakmanskap.
“Die munisipaliteit se optrede druis in teen die grondwetlike regte van die inwoners. AfriForum het ʼn strafregtelike klag teen die munisipale bestuurder, mnr. NM Seanego aanhangig gemaak, omdat ons die plaaslike munisipaliteit tot verantwoording wil roep vir dié situasie,” het Hein Gonzales, AfriForum se provinsiale koördineerder vir Mpumalanga, kort na die voorval gesê.
AfriForum en die hoof van sentrumbestuur by die Mbombela Munisipaliteit, mnr. Louis Mdawe het daarna ‘n vergadering gehad om die probleem te probeer oplos.
“Nadat ons die klag ingedien het, het die munisipaliteit die rioolstorting onmiddellik gestaak. Munisipale werkers is tans besig om die harde rioolafvalstowwe in die dorp op te ruim,” sê Gonzales.
Die organisasie het Woensdag ‘n nuwe tak in die gemeenskap gestig met die oog daarop om te sorg dat beter diense aan inwoners verskaf word.
“AfriForum se netwerk in die provinsie brei nou goed uit. Die verkose takbestuur wil ʼn daadwerklike verskil in die gemeenskap maak met onder meer selfdoenprojekte en deur die munisipaliteit verantwoordbaar te hou. Ons het die hande, ons het die kennis, en ons gaan hard werk om ons gemeenskap te verbeter,” sê Pieter Skead, voorsitter van die nuutgestigte AfriForum-tak.
Lees oor die rioolrivier wat op ‘n kleinhoewe buite die dorp ontstaan het hier.
