Oudrugbylede herenig na 17 jaar
Die reünie het nie net spelers van daardie spesifieke jaar ingesluit nie, maar ook dié wat in die 70's, 80's en 90's vir die Lydenburg Rugbyklub gespeel het.
Voormalige lede van Lydenburg Rugbyklub het Saterdag vir die eerste keer in 17 jaar herenig om hul legendariese oorwinning 27 jaar gelede in die Laeveld Superrugbyliga van 1998 te herdenk.
Die reünie het nie net spelers van daardie spesifieke jaar ingesluit nie, maar ook dié wat in die 70’s, 80’s en 90’s vir die Lydenburg Rugbyklub gespeel het.
Dié historiese wedstryd in 1998 toe die klub die trofee omhoog kon hou, is met ‘n spitbraai by die Rooikat Rugbyklub gevier.
Hoewel die spelers nie meer die veld kan aandurf soos in daardie jare nie, is die triomf van daardie jaar teen Bosveld Rugbyklub van Hoedspruit nog vars in die geheue.
Die reünie was Hedley Wessels, ‘n voormalige speler van Griekwas, se idee. Wessels het voorheen in Frankryk rugby gespeel.
Hy het ‘n WhatsApp-groep gestig en saam met Pieter du Plessis, ook ‘n vorige Rooikat-rugbyspeler en plaaslike inwoner, die spelers aan die gesels gekry.
Du Plessis het die geleentheid met behulp van die rugbyklub gereël. Hy vertel hulle het dit goed gedink om ook die legendes van die 70’s en 80’s in te sluit omdat die spelers wat in die 90’s gespeel het, as’t ware na hulle opgesien het.
“Dit was ‘n vreugdevolle oomblik om die ouens weer na al die jare te sien, om te sien hoe elkeen gegroei het en die samesyn was heerlik! Ek onthou nog die dag toe ons die liga gewen het.
“Ons teenstanders was só seker hulle gaan die wedstryd wen, hulle het selfs sjampanje gebring om dit te vier maar, ongelukkig vir hulle het ons gewen!
Een van ons spanlede het in hul kleedkamers ingegaan, die sjampanje geneem en gesê, ‘julle sal hierdie nie meer nodig nie hê nie'”, skerts Du Plessis.
Van die spelers het tot so ver as Kuruman en Kaapstad vir die byeenkoms gekom.
“Met hierdie reünie wou ons ook jonger mense aanmoedig om by plaaslike sportaktiwiteite betrokke te raak.
Die lewe kan so interessant wees, ons het lewens lange vriende gemaak en in ons tyd ‘n stukkie geskiedenis gemaak. Die jeug kan dieselfde doen, speel rugby, maak vriende, geniet jou jongmenslewe.
As jy belangstel om by die rugbyklub aan te sluit, skakel Darius van der Westhuizen by 082-403-8066.
“Ons wil graag die Rooikat Rugbyklub bedank vir die verskaffing van ons kos, drank en die voorbereiding van die lokaal,” het Du Plessis bygevoeg.
