Vergewis jouself van reëls oor wilde diere
Tel sommige diere op en onderneem om dit by die huis te versorg, dan het jy probleme.
Die Laeveld het ‘n ryk dierelewe en inwoners kom gereeld gevaarlike of ongewone gediertes op hul voorstoep teë. Tel jy een van dié diere op en onderneem om dit by die huis te versorg, het jy probleme.
Laevelder het met die Mpumalanga Toerisme- en Parke-agentskap (MTPA) gesels om uit te vind wat presies die reëls rakende wilde diere is. Die MTPA pas die Mpumalanga Bewaringswetgewing (Wet 10 van 1998) toe en is vir die bewaring van wilde diere en plante in die provinsie verantwoordelik. Ingevolge die wetgewing is daar heelwat wetlike vereistes wat hulle in staat stel om hul pligte uit te voer.
In ‘n onlangse geval het Jacques Slabbert amper lang krokodiltrane gehuil nadat hy uitgevind het dat hierdie einste reptiel hom in groot moeilikheid kon laat beland het. Hy het met die dier op Facebook gesmous, salig onbewus daarvan dat hy ‘n permit moes hê.
Ingevolge die wetgewing word die wilde diere wat in die provinsie voorkom in verskillende kategorieë volgens hul bewaringstatus opgedeel:
• Spesiaal beskermde wild soos renosters en olifante
• Beskermde wild wat weens hul status weens oorbenutting of skaarsheid beskerm moet word soos steenbokke, rooiduikers en krokodille
• Gewone wild soos rooibokke, koedoes en blesbokke
• Beskermde wild soos leeus, luiperds en buffels
• Probleemdiere soos jakkalse en bosvarke.
Dan is daar ook ander kategorieë van wilde diere in die wetgewing wat sekere beperkings daarstel soos ape, bobbejane, dassies en vlakvarke wat nie in gevangenskap aangehou mag word nie.
Die wetgewing maak egter voorsiening dat daar, met ‘n permit, met al hierdie wilde diere, onder sekere omstandighede sekere handelinge verrig kan word, soos deur dit aan te hou (in groot kampe of waar dit kleiner kampe of hokke regverdig), te vang, te verkoop of selfs te jag. Dit beteken egter nie dat die dier aan jou behoort nie.
Eienaarskap van wilde diere is baie gekompliseerd ingevolge die Suid-Afrikaanse regstelsel. Die status van wild ingevolge die Gemene Reg is res nullius. Dit beteken dat wilde diere aan niemand behoort nie en dat die staat slegs beheer daaroor uitoefen. In leke taal beteken dit, al is jy dus die eienaar van grond en daar kom wild vrylik daarop voor, kan jy nie daarmee maak soos jy wil nie. Die grondeienaar het dus nie eienaarskap oor die wild nie. Baie mense interpreteer hierdie eienaarskap verkeerd.
Indien privaat grond egter volgens voorgeskrewe vereistes toegespan is en die wild onder normale omstandighede nie uit die omheinde gebied kan ontsnap nie, kan vrystelling aan die eienaar verleen word om sekere handelinge te verrig en ‘n permit daarvolgens uitgereik word. So ‘n eienaar oefen nou beheer oor die wild uit. Hy kry dus vrystelling van sekere voorwaardes van die wet en mag dan byvoorbeeld van die wild wat op die vrystellingspermit voorkom sonder enige bykomende permitte jag of laat jag.
Die eienaar het dus nie eiendomsreg oor die wild nie, maar slegs beskikkingsreg. Indien jy vrylopende wild wat nie deur wildsheinings ingeperk word nie soos blesbokke en springbokke in die Hoëveld wil jag, moet jy ‘n jaglisensie bekom.
Sodra die wild egter van die omheinde grond ontsnap en weer sy vryheid herwin het, is sy status weer res nullius en behoort dit weer aan niemand nie. Daar kan egter nie vir voëls vrystelling verleen word aangesien drade hulle nie inperk nie. Meeste voëls is beskermd met die uitsondering van dié wat as gewone wild geklassifiseer is soos onder andere tarentale, fisante, kolganse geelbekeende. Die besit, aanhou, verkoop en jag van voëls word ook deur ‘n permitstelsel beheer.
Ons is in Afrika waar wild vrylik rondloop. Dit is belangrik dat mense die beginsel moet verstaan en weet hoekom dit so is en waarom eienaarskap uitgesluit word. ‘n Maklike verduideliking om die implikasie van eienaarskap van wild te verduidelik is: As drade deur ‘n grondeienaar gespan word, ongeag hoe hoog of sterk, kan dit wilde diere net onder normale omstandighede inperk.
Die res nullius-beginsel beskerm dus eintlik die individue. Jare se waarneming en ondervinding het geleer dat diere soos vlakvarke en koedoes nie maklik ingehou word nie. Al span jy talle drade, as hulle wil ontsnap, gaan hulle en jy as “eienaar” van dié dier kan en gaan vir enige skade en verlies wat veroorsaak is verantwoordelik gehou word.
Byvoorbeeld: Sou ‘n koedoe voor ‘n voertuig beland en mense sterf, kan siviele eise volg. Dieselfde beginsel sal geld waar die ontsnapte wilde dier die buurman se oeste opvreet en verliese veroorsaak.
Sodra ‘n dier uit die Nasionale Krugerwildtuin breek, word dit die MTPA se verantwoordelikheid. Hulle mag dan privaat grond betree en teen die dier optree ingevolge hul wetlike bevoegdhede.
Sou ‘n olifant jou werf betree en jy neem die situasie in eie hande en kwes die dier, kan jy verantwoordelik gehou word as hierdie beseerde dier ander mense seermaak of skade aanrig. Die onwettige jag van wild kan jou, afhangend van die omstandighede, tussen vyf tot 10 jaar tronkstraf besorg. Jou vuurwapens kan ook verbeurd verklaar word en jy kan onbevoeg verklaar word om ooit weer een te besit.
