Plaaslike bedryf baat by musiekwerkwinkel
Woensdagaand was dit die tweede keer dat 'n musiekwerkwinkel by Harry Green Music World aangebied is en volgens RJ Nel was dit 'n reusesukses.
MBOMBELA – Harry Green Music World se musiekwerkswinkels lyk of hulle op ‘n wenresep geskoei is.
Woensdagaand was maar die tweede keer wat een aangebied is en volgens RJ Nel van dié musiekwinkel was dit weer ‘n reusesukses.
Nel sê daar word elke twee tot drie maande ‘n musiekaand gehou wat op ‘n spesifieke vervaar-diger van toerusting en instrumente konsentreer.
“Ons vorige werkswinkel was van Active Music wat dit op een van hul produkte naamlik, Sonor-tromme, gebaseer het,” verduidelik Nel.
Verlede week was dit egter Yamaha se beurt en wie beter as die musiekkenners, Ryan Schnettler en Marius Marais om Yamaha se jongste klanke op die kitaar en klawerbord uit te toets?
Volgens Nel is die doel van hierdie werkswinkels om Nelspruiters die geleentheid te bied om iets te leer en hulle spel en aanbieding te verbeter.
“Ons gee om vir ons musikante en het ‘n skitterende span by Harry Green Music World wat trots is op die goeie diens wat ons aan ons klante lewer,” sê Nel. Hy is self ‘n musikant en sê dat hy graag sal wil sien dat die musiekbedryf in die Laeveld, wat tans baie klein is, moet groei.
“Ons wil hê musikante moet voel asof hulle by die huis is as hulle hier instap en daarmee saam wil ons graag deel wat ons weet en help waar ons kan,” verduidelik Nel.
“Musi-kante moet weet dat Harry Green Music World die ektra myl stap en daarna streef om musikante te help om vorentoe te beweeg en eindelik sukses te behaal.”
Volgens Nel is almal welkom om die werkswinkels by te woon – oud en jonk, beginner of professioneel.
Navrae: Harry Green Music World by 013-752-7725.



