BELFAST – Die direkteur van tegniese dienste by die Emakhazeni Plaaslike Munisipaliteit, mnr. Lucas Sindane, het Maandag skriftelik aan AfriForum bevestig dat die westelike pompstasie in Belfast eindelik herstel is om die voortslepende rioolstorting in die vleiland te beëindig.
Dít volg nadat AfriForum die Departement van Water en Sanitasie (DWS) op terme geplaas het om in te gryp, nadat albei pompe sedert Junie vanjaar buite werking was.
AfriForum het die pompstasie verlede Vrydag, saam met Sindane besoek om die vordering van die herstelwerk te bepaal.
“Die kontrakteurs was druk besig om die pompe te installeer,” het mnr. Hein Gonzales, AfriForum se provinsiale koördineerder vir Mpumalanga, gesê.
Gonzales het sy dank teenoor die DWS en Munisipaliteit uitgespreek en gesê hy is verras met die spoedige ingryping.
Hy het egter bygevoeg dat AfriForum steeds die vordering fyn sal dophou en gesê hulle was reeds besig om ‘n aksieplan saam te stel om die besoedelde gebied te rehabiliteer.
Volgens Gonzales is verskeie ander gemeenskapsprojekte ook met Sindane bespreek, wat onder andere die herstel van slaggate in die dorp insluit. Gonzales het egter gesê dat dit wil voorkom of die munisipaliteit nie tans oor die nodige fondse beskik om dié probleem op te los nie.
