Café Crust gaan nou groot
"Ons bring 'n speelplek vir kinders aan, 'n klein verhoog word opgerig en twee bomas en 'n kroeg word aangebring by die reeds bestaande restaurant."
LYDENBURG – Daar is groot verwikkelinge by Café Crust. Dié gewilde eetplek gaan eersdaags uitbrei en bouwerk is byna voltooi.
Volgens die eienaar, mnr. André du Preez, gaan daar baie veranderings plaasvind.
“Ons bring ‘n speelplek vir kinders aan, ‘n klein verhoog word opgerig en twee bomas en ‘n kroeg word aangebring by die reeds bestaande restaurant.”
Du Preez meen dat hulle na die uitbreidings sowat 100 mense gemaklik sal kan akkommodeer. Daar gaan ‘n grootskermtelevisie aangebring word waar die mans na hartelus in die kroeg kan rugby kyk, terwyl die vroue rustig kan kuier en kinders hulself by die speelplek kan besig hou.
‘n Projektor gaan teen een van die mure aangebring word waar rugbywedstryde, benewens die televisies by die kroeg, ook uitgesaai gaan word.
Hy vertel dat die restaurant ook ‘n platform aan plaaslike kunstenaars gaan bied waar optredes op die verhoog gehou kan word.
Die restaurant gaan na die verbouings sy ure verleng. Veranderinge aan die spyskaart gaan aangebring word en een vir kinders gaan bygevoeg word.
Die presiese datum van die inwyding van die nuwe geriewe by Café Crust is nog nie bekend nie.
“Ons sal nader aan die tyd die publiek in kennis stel van die presiese datum en tyd.”

