Klop aan by Kaapsehoop se Wildeperdefees hierdie naweek
Dié fees is die jaarlikse fondsinsameling vir die dorp se gemeenskapkas sowel as vir die wilde perde-fonds.
KAAPSEHOOP – Op 5 September is dit weer tyd vir die Wildeperdefees en hierdie keer pak die bergwoners dit op hulle eiesoortige manier aan.
Dié fees is die jaarlikse fondsinsameling vir die dorp se gemeenskapkas sowel as vir die wilde perde-fonds.
Dit skop Vrydagaand met ‘n kunsuitstalling af in die Ou Plaashuis van inwoners se kunswerke, van pottebakkerswerk tot skilderye, wat ook die res van die naweek besoek kan word.
Deanne Jordaan bied Saterdag ook drie kunsterapie-sessies aan in die Sacred Space Art Studio in Vogelstraat. Sessies kos R180 per persoon en is van 09:00 tot 10:30, 11:30 tot 13:00 en 15:00 tot 16:30.
‘n Besliste hoogtepunt vir nuuskierige agies is die Meander & Mingle waartydens verskeie inwoners hul huise se deure oopgooi en wys hoe die dorpenaars leef en waarmee hulle hul besig hou. Dié begeleide toer is beperk tot slegs 20 mense en elkeen sal ‘n geskenksak ontvang met klomp bederfdinge, waaronder ‘n splinternuwe Kaapsehoop-kalender.
Estelle Theron, organiseerder van die Meander & Mingle, sê dit is ‘n inisiatief van die stokvel-vroue op die dorp. “Besoekers wonder baie keer waarmee hou ons onsself besig op die klein dorpie, en nou is die kans om te kom loer.” Kaartjies kos R250 en besprekings kan by Estelle gedoen word by 082-372-9536.
‘n Wandeling van ‘n ander aard is die Rock-ster-roete. Gedink jy ken die wandelpad tussendeur die rotse? Dié keer kan jy dit stap en terselfde tyd die unieke rotsformasies bekyk wat spesifiek aangedui sal word. Daar is die Madonna-figuur, die hart-klip en ‘n handvol ander wat uitgesonder is omdat dit na iets of iemand lyk – en besoekers is welkom om ‘n foto te neem van hul eie rock-sterre sodat dit by die roete ingesluit kan word.
‘n Kaart sal by die inligting-kiosk op die dorpsplein te kry wees.
Voorts sal daar ponieritte vir die kinders wees, demonstrasies deur die hoefsmid-vereniging en optredes deur die marimba-orkes van die Mathews Phosa College sowel as die Stevenson-Hamilton-doedelsakgroep, ‘n boetiekbier-proe en ander vermaak by Bohemian Grove Café en ‘n biertuin by Silver Mist Country Inn. Berry Legg, organiseerder van die stalletjies op die dorpsplein, is opgewonde oor die gehalte produkte wat uitgestal en te koop sal wees. “Vanjaar se keuring was heelwat strenger as verlede jaar. Ons gee voorkeur aan handgemaakte produkte,” vertel sy.
Ingang na die dorp tydens die fees sal R30 per motor wees en daar is voorsiening gemaak vir parkering sodat die dorpstrate voetgangervriendelik sal wees.
