Waaghalsige vroue durf uitdagende wedloop aan
"Ons het vir die 10km-wedloop ingeskryf. Dit het 22 hindernisse gehad wat 'n moddergat, waterglybaan, stortvloed en vele meer ingesluit het.
LYDENBURG – Nege dapper vroue van dié dorp het onlangs aan die Warrior Commando-wedloop in Krugersdorp deelgeneem.
Die span het aan die koerant gesê dat hulle gevoel het dat hulle reg vir ‘n lekker uitdaging was. “Die groep se naam is FemNix, ons het FemFitness (die plaaslike vroue-gim in die dorp) en Phoenix-sekuriteit gekombineer. Phoenix was ook ons borg.
‘n Paar van die vroue by die gim het toe besluit dat die warrior race eerste op ons lys was,” verduidelik Maricke Kok, eienaar van FemFitness.
Die resies toets deelnemers se stamina, krag, uithou- en deursettingsvermoëns. Die Commando-wedloop se baan bestaan uit verskeie hindernisse waar spanne mekaar deur dié uitdagings kan help en só ‘n spanbougees ontwikkeel.
“Ons het vir die 10km-wedloop ingeskryf. Dit het 22 hindernisse gehad wat ‘n moddergat, waterglybaan, stortvloed en vele meer ingesluit het.
“Ons het beslis almal op ‘n stadium deur ons vrese gewerk en ons fisiese en emotionele perke getoets. Dit was meeste van die dames se eerste keer, maar ons is oortuig dit was nie die laaste keer nie.
“Ons is beslis reg vir nog so ‘n uitdaging,” het Kok gesê.



