Gewilde Mel Botes bring hulde aan Dire Straits
Die bekende sanger, liedjieskywer en kitaarvirtuoos, Mel Botes gaan op 18 September sy A stunning tribute to Dire Straits by De Ark Gastehuis aanbied

LYDENBURG – Die bekende sanger, liedjieskywer en kitaarvirtuoos, Mel Botes gaan op 18 September sy A stunning tribute to Dire Straits by De Ark Gastehuis aanbied.
Botes is een van die min kunstenaars wat daarin kon slaag om sowel ‘n Afrikaanse loopbaan as liedjieskrywer en folk-rocksanger, as ‘n Engelse loopbaan as rocksanger en kitaarspeler te vestig.
Fynproewers en nuwelinge wat nog nie aan Botes se kenmerkende styl, veelsydigheid en volgehoue oorspronlikheid blootgestel was nie, sal sy optrede beslis geniet.
Mel het allerweë die afgelope 14 jaar daarin geslaag om musiekgrense te verskuif en baanbrekerswerk gedoen met sy Afrikaanse albums soos Oomblik van Waansin en Ek like jou, Ma, die Song vir Katryn-klankbaan saam met Valiant Swart, asook Engelse albums soos David’s Confession – About time, Flight of Bird, Nice to Meet You en Crazy Diamond – A Tribute to Pink Floyd.
Die multidimensionele verhoogproduksie van Crazy Diamond – A Tribute to Pink Floyd is in 2008 op die planke gebring en trek vandag nog vol sale.
Mel het die sukses van dié aanbieding met soortgelyke produksies wat op die musiek van Dire Straits gebaseer is, opgevolg. Daarna het nog ’n baanbrekersproduksie, Riders from the Storm – the South African Electric Guitar Legends, saam met gesoute bobaasmusikante en -kitaarspelers Piet Botha, Valiant Swart, Albert Frost, Robin Auld en Nathan Smith gevolg wat veral rock-liefhebbers na hul asems laat snak het.
Hy het onlangs sy eerste Afrikaanse CD in sewe jaar opgeneem en goeie nuus is dat dié nuwe oorspronklike album eersdaags in musiekwinkels beskikbaar sal wees. Die titel van die kraakvars album is, Dans in die weerlig en is gedeeltelike ‘n huldeblyk aan sy oorlede pa, Jan. Die album spog met ‘n verskeidenheid oorspronklike musiek wat die getroue Mel Botes- aanhangers beslis nie sal teleurstel nie. Een van die liedjies “Plekkie by die See” word reeds reeds gereeld op RSG gespeel.
Moenie hierdie huldebly aan Dire Straits misloop nie. Kaartjies kos R120 per persoon. Die vertoning begin om 20:00. Vir besprekings of navrae, skakel De Ark Gastehuis by 013-235-1125.

