Kom ontdek die psige van ‘n man
Moenie verskonings uitdink om Saterdagmiddag die akteur, Altus Theart, se eenmanvertoning, Hoe 'n man se kop werk by die De Ark Kunstefees om 14:00 mis te loop nie.

LYDENBURG – Moenie verskonings uitdink om Saterdagmiddag die akteur, Altus Theart, se eenmanvertoning, Hoe ‘n man se kop werk by die De Ark Kunstefees om 14:00 mis te loop nie. Jy kan steeds na die Wêreldbekerrugbywedstryd tussen die Springbokke en Skotland op die grootskerm kyk.
Theart se gewilde kabaret is vanjaar by die KKNK uitverkoop. Die akteur, bekend vir sy rolle in die televisiereeks Getroud met rugby en die Bakgat-rolprente, speel die rol van Bobby in die skreeusnaakse solokomedie.
Hy maak op obskure ouens uit sy verlede staat om uit te vind wat ‘n vrou wil hê. Die braaivleisvure gaan intussen aangesteek word en na die vertoning kan gaste braai en die rugby geniet.
Braaipakkies sal te koop wees met gratis pap en sous.
Toegang vir die vertoning wat in die Bonaparte-teater van die gastehuis plaasvind, is R120 per persoon.
