LHS berei voor vir 2016 interhoër
Om die Laeveld-interhoër aan te bied, word slegs een keer elke sewe jaar aan 'n skool gegun en Hoërskool Lydenburg wil dit 'n heerlike belewenis vir alle inwoners en besoekers maak.
LYDENBURG – Ter voorbereiding van die 67ste Mediclinic Laeveld Interhoër 2016 waarvan Hoërskool Lydenburg die gasheer is, is ‘n gemeenskapsvergadering Maandagaand by die skool gehou om die planne wat tot dusver in plek is aan belanghebbendes bekend te stel en dit te implementeer.
Om die Laeveld-interhoër aan te bied, word slegs een keer elke sewe jaar aan ‘n skool gegun en Hoërskool Lydenburg wil dit ‘n heerlike belewenis vir alle inwoners en besoekers maak.
Die byeenkoms vind op 20 Februarie plaas. Volgens mnr. Johan Loots, hoof van die skool, wil hulle almal wat betrokke is met die planne vertroud maak en ook met
dit wat op die dag verwag kan word.
Om die geleentheid suksesvol aan te bied, het die skool borge nodig. “Ons versoek graag die gemeenskap om ons te help geld insamel en te help op die dag. Daar word meer as 8 000 mense verwag en ons sal al die mannekrag wat ons kan kry, nodig hê,” het Loots bygevoeg.
Daar is stalletjies beskikbaar wat mense op die dag kan huur. Diegene wat belangstel om die skool in hierdie groot gebeurtenis te ondersteun, skakel die skool by 081-010-1151 of e-pos
hoof@lydenburghs.co.za.


