El Niño bring warmer, droër somer na Laeveld
Die gevolge van EL Niño vir Mpumalanga skets prentjies van uiterstes.
Hoër temperature, minder reën as normaal en langer droë periodes tussen reënbuie is op Mbombela se voorstoep namate El Niño sterker word.
Laevelder het by Sakkie Froneman gaan kersopsteek om meer lig op dié klimaatverskynsel en die moontlike gevolge daarvan vir die Laeveld te werp.
Froneman is reeds 28 jaar by die planteteling en tuinboukundige navorsing by die Landbounavorsingsraad in Mbombela betrokke.
Hy is ook al die afgelope 11 jaar verantwoordelik vir die bestuur van The Fruit Farm Group South Africa se klonale avokadokwekery, asook vir die avokado-, lietsjie- en makadamiaplantasies op Schagen.
Wanneer kan Mbombela en Mpumalanga El Niño begin ervaar, en hoe sal dit ons beïnvloed?
Luidens Froneman beïnvloed El Niño Mpumalanga gewoonlik gedurende die somerreënseisoen, wat van Oktober tot Maart strek.
“Vir Mbombela beteken dit dikwels hoër temperature, minder reën as normaal en langer droë periodes tussen reënbuie. Die grootste impak word gewoonlik gedurende midsomer, van Desember tot Februarie, ervaar,” het Froneman aan Laevelder vertel.
El Niño is ’n klimaatverskynsel wat ontstaan wanneer die oppervlakwater van die sentrale en oostelike Stille Oseaan warmer as normaal word. Dit beïnvloed wêreldwye weerpatrone en kan gevolge vir reënval en temperature in verskillende dele van die wêreld inhou.
“Dit kom gewoonlik elke twee tot sewe jaar voor,” sê Froneman.
Inwoners word aangeraai om vroegtydig voorbereidings te tref
Froneman beveel die volgende aan:
• Gebruik water spaarsaam
• Bestuur watergebruik in tuine en by gewasse doeltreffend.
• Installeer watertenks waar moontlik
• Onderhou brandstroke op plase en rondom eiendomme
• Tref voorsorg vir hittegolwe
• Volg weerwaarskuwings van die SAWS.
Van die moontlike gevolge van langdurige droë en warm toestande is ernstige droogte, watertekorte, veld- en bosbrande, groot verliese in landbouproduksie, stygende voedselpryse en toenemende druk op munisipale waterbronne en damvlakke.
Kan inwoners wel reën verwag tydens die tydperk?
“Beslis,” sê Froneman.
El Niño beteken nie dat dit glad nie sal reën nie.
Reënbuie en selfs swaar neerslae kan steeds voorkom. Volgens Froneman was sommige sterk El Niño-jare in die verlede selfs met bogemiddelde reënval in dele van Suid-Afrika geassosieer.
Die verskynsel verhoog egter die waarskynlikheid van droër toestande in sekere gebiede.
“Mbombela en die Laeveld kan steeds laatmiddag-donderstorms ervaar. Die verskil is dat hulle moontlik minder gereeld voorkom en meer oneweredig versprei is. Sommige gebiede kan swaar reën ontvang, terwyl ander droog bly,” verduidelik hy.
Hoe lank kan El Niño duur?
“’n Tipiese El Niño-episode duur nege tot 12 maande, hoewel sterker episodes langer kan voortduur. Volgens huidige internasionale vooruitskattings kan die verskynsel tot in die eerste kwartaal van 2027 voortduur.”
Hoe kan dit die landbou affekteer?
Landbou kan die swaarste getref word deur:
• Laer gewasopbrengste
• Groter besproeiingsbehoeftes
• Swakker weiding vir vee
• Hittestres op gewasse en diere
• Hoër insetkoste vir boere.
Ekonomiese gevolge vir huishoudings en landbouprodusente
Indien droër toestande to produksieverliese lei, kan dit bydra tot:
• Hoër voedselpryse
• Hoër water- en elektrisiteitskoste
• Verhoogde besproeiingsuitgawes
• Verhoogde veevoerkoste
• Groter finansiële druk op huishoudings en landbouprodusente.
Uiterste droogte en verhoogde brandgevare word wel voorspel
El Niño word dikwels met bogemiddelde temperature, droë plantegroei en ’n groter risiko vir veldbrande geassosieer. “Dele van Mpumalanga word reeds as gebiede met ’n verhoogde risiko vir droogte en veldbrande geïdentifiseer indien sterk El Niño-toestande ontwikkel.”
Froneman sê Mbombela en groot dele van Mpumalanga kan tydens El Niño ’n groter kans op warmer en droër somertoestande verwag. “Dit sluit egter nie reënbuie en donderstorms uit nie. Inwoners, boere en plaaslike owerhede moet waterbestuur en brandvoorkoming vroegtydig prioritiseer.”
