EntertainmentLifestyleLocal newsNews

Uiteindelik, terug op die Suid-Afrikaanse verhoog

Jan Keizer en Anny Schilder is uiteindelik terug. Die legendariese, oorspronklike stemme van BZN toer einde Oktober tot en met 8 November deur Suid-Afrika.

Jan Keizer en Anny Schilder is uiteindelik terug. Die legendariese, oorspronklike stemme van BZN toer einde Oktober tot en met 8 November deur Suid-Afrika. Die Nederlandse duo trakteer die publiek met ‘n nostalgiese optrede en hulle grootste treffers. Spesiale gaste is Nádine en Gerrie Pretorius.

Vandag is Jan Keizer en Anny Schilder vir miljoene mense in en buite Suid-Afrika nog steeds die gesigte agter BZN, die Band Zonder Naam. “En so sal dit bly”, kom dit in ‘n koor. “As boegbeelde van die groep het ons tussen 1976 en 1984 alle hoogtepunte meegemaak en ‘n eindelose reeks top-treffers gehad. Die periode vorm ‘n geweldige deel van ons lewe waarop ons met baie plesier terugkyk. Orals waar BZN opgetree het, was ons met ope arms ontvang. Met die groep het ons ongeveer elke land op die aardbol besoek. Ons is ontsettend trots daarop, niemand kan ons dit ooit ontneem nie.”

Die geheim van sukses.
Wêreldwyd is vyftien miljoen albums van BZN verkoop, in Suid-Afrika alleen het die groep nege kere met platinum weggestap. Wat is die geheim van die dawerende sukses? Jan en Anny: “BZN se klank! Dit is uniek en so tipies van alle musiek wat uit die Nederlandse stad Volendam kom. In die volksmond word dit ‘palingsound’ genoem. Jy herken die geluid onmiddellik aan ons manier van sing, aan die spesiale ritme in ons stemme. Sedert die tagtiger jare is die ikoniese klank van BZN ook vreeslik populêr in Suid-Afrika.”

Voorliefde vir Frans
As ‘n Nederlandstalige groep het BZN ook baie sukses behaal met Franstalige liedjies. Waarom die voorliefde vir Voltaire se taal? Jan: “My vader het dikwels Franse liedjies van Tino Rossi gesing by die huis. Die liedjies het altyd in my kop bly draai. In die sestiger jare het Willem Duys die Grand Gala du Disque aangebied, waar beroemde sterre in die kollig geplaas is. Dink byvoorbeeld aan Marlene Dietrich, Françoise Hardy en Enrico Macias wat ‘n wenner gehad het met ‘Mon Coeur D’Attache’. Hulle liedjies het my baie aangetrek en ek het die Franstalige tekste foneties uit my kop geleer. Die groot deurbraak met ‘Mon Amour’ het gekom toe ons met BZN oorskakel van rock na ‘n meer melodieuse musiek in die Moody Blues styl. Hierdie wereldteffer het begin as ‘n grappie op ‘n repetisie. Ek het willekeurig ‘n paar Franse woorde opgeskryf, ‘n brabbelteks gemaak en dit op ‘n nogal brutale manier gesing. Frans is ‘n baie toeganklike taal en streel die oor.”

Volwasse in een klap
“Toe Mon Amour uitkom, het ek nog maar net ‘n paar maande by BZN gesing”, vertel Anny. “Ek was sewentien en nog maar ‘n groentjie. Die monstersukses van die plaat het my hele lewe sommer skielik verander en ek het in een klap groot geword. Ons was gedurig op ‘n drafstap, van een optrede na die volgende. My tyd by BZN lê my na aan die hart, ek koester baie mooi herinneringe. Ek word nog altyd op straat herken, mense stop my en vra my om saam op hulle foto te staan.”

Die legkaart pas inmekaar
In 2007 sak die gordyn oor BZN. Twee jaar later tree Jan en Anny vir die eerste keer in 25 jaar weer saam op as ‘n eerbetoon aan televisie ster Mies Bouwman. “Die publiek in die Amsterdamse Teater Carré was wild van entoesiasme. Die legkaart pas toe opnuut inmekaar. Sing is nou maar eenmaal ons ding. Ons kan nooit wag om die verhoog op te gaan nie”, aldus Jan en Anny.

Optrede met die grootste treffers
Die legendariese duet Jan Keizer en Anny Schilder, die oorspronklike stemme van BZN, kom uiteindelik terug na Suid-Afrika. Hulle bring ‘n unieke vertoning met hulle grootste treffers. “Suid-Afrika is so ‘n bietjie ons tweede moederland. Ons praat amper dieselfde taal en dit skep ‘n besondere band. Ons het ontelbare albums hier verkoop en sommer baie optredes gehad. Einde Oktober tot en met 8 November toer ons weer deur die hele land, van Nelspruit en Johannesburg tot Pretoria en die Kaap.

Met ‘n orkes van wêreldformaat dompel ons die publiek weer onder in ‘n nostalgiese sfeer. Al die groot treffers pas in die revue: ‘Yeppa’, ‘La France’, ‘Le Légionnaire’, ‘Waltzing Maria’, ‘Mon Amour’, ‘Wheels On Fire’, ‘Amore’, ‘Blue Eyes’ en so voorts.” Jan en Anny het ook twee spesiale gaste uitgenooi: SABC2 aanbieder en sangeres Nádine en kykNET aanbieder en sanger Gerrie Pretorius. Laasgenoemde het ‘n nommer 1-treffer saam met Anny gehad in 2007 met die duet ‘First Kiss Goodnight’.

Nog lank nie uitgesing nie
“Ons kan nie wag om na ‘n jarelange afwesigheid weer op die verhoog in Suid-Afrika te staan nie. Dit is elke keer weer wonderlik om te sien hoe die mense hier ons liedjies vanaf die eerste noot saam sing. Dit trek aan ‘n kunstenaar se hart. Musiek maak is verslawend en super-lekker, dis waarom ons al so lank besig is in die besigheid. Jan en Anny is nog lank nie uitgesing nie en dink nie eers naastenby daaraan om nou al af te tree nie”, knipoog die duet wat vandag nog meer dinamies is as ooit.

Kyk wanneer hulle in Mbombla optree 

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Stefan de Villiers

Stefan de Villiers, based in Mbombela, Mpumalanga, is currently the Editor at Lowvelder. He brings a wealth of knowledge and experience from previous roles at Lowveld Media, such as Sports Editor, Journalist and Photographer. He started on November 1, 2013.
Back to top button