TSHOKWANE – Talle besoekers aan die Nasionale Krugerwildtuin (NKW) het onlangs op vier ontstellende tonele afgekom. Die Nsemani-, Marheya-, Mazithi-, en Kumanadamme was byna leeg en tientalle dooie visse het op die oppervlak gedryf.
Dié stand van sake is nie vir die NKW kommerwekkend nie aangesien dit aan die droogtetoestande toegeskryf word.
Foto’s op die Africa Wild-webblad, soos deur mnr. Richard Prinsloo voorsien, beeld die effek van die droogte op van die park se waterbronne uit.
Op 5 Oktober het weinig water en ‘n dik laag slyk op die Nsemanidam gelê.

Die Marheya- en Kumanadamme was op 7 Oktober leeg en alhoewel daar water in die Mazithidam was, was die reuk van dooie, vrot visse glo oorweldigend.



Gebruikers van die webblad was bekommerd dat hierdie vrot visse die diere wat daar drink sou vergiftig en het gevra wat SANParke sou doen om die situasie te beredder.
Mnr. William Mabasa, die NKW se departementshoof vir openbare betrekkinge en kommunikasie, het aan Laevelder gesê dat die Mazithidam nou ook leeg is. “Die leë damme kan toegeskryf word aan die droogte,” het hy gesê.
Dit is alombekend dat die NKW meer besoekers lok in die tradisionele droë seisoen tussen Mei en Oktober. Mabasa meen dat hierdie effek van 2015 se daarop-volgende Oktober-droogte, te verwagte is.
Oor ‘n moontlike ingryping waar die damme opdroog en visse vrot, het hy gevra: “As ‘n natuurlike droogte ons natuurlike habitat tref, moet ons nou kunsmatig water in die natuurlike damme gaan staan en inpomp? Dit sal in teenstryd wees met die natuurlike aard van die wildtuin. Dit is logies dat visse sal vrek as daar nie vir hulle genoeg water is nie. Die Mazithidam het intussen heeltemal opgedroog en diere drink nie meer daar nie. Ek was gister daar en daar lê nie meer dooie visse nie,” het hy gesê.
Fotos van die Africa Wild webblad, verskaf deur Richard Prinsloo.




