Local news

IN FOTO’S: Innibos 2026 se syfers wys fees se enorme impak

Met ongeveer 78 000 feesgangers was Toyota Innibos weer eens 'n groot sukses en het talle besoekers vêr gereis om deel te wees van die gesogte kunstefees.

Ongeveer 78 000 feesgangers het Innibos van 2 tot 5 Julie bygewoon – ’n merkwaardige prestasie in ’n jaar waarin stygende brandstofpryse en hoër lewenskoste baie huishoudings se begrotings onder druk geplaas het.

Dat die bywoningsyfer bykans gelykstaande aan dié van verlede jaar is, spreek boekdele van Innibos se lojale ondersteuners en die fees se blywende aantrekkingskrag.

LEES OOK: KYK: In die Stoel met Laevelder: Naranda Leeuwner

Innibos se impak strek veel verder

Die impak van Toyota Innibos strek egter veel verder as die feesterrein. Gedurende die voorbereiding vir die fees en die fees self is meer as 1 000 tydelike werksgeleenthede geskep – van op- en afbreekspanne, tegniese personeel en sekuriteitsbeamptes tot skoonmaakpersoneel, spysenieringsdienste, stalletjiepersoneel en logistieke ondersteuning.

Senior vise-president van verkope en bemarking by Toyota Suid-Afrika Motors, Leon Theron, sê die maatskappy is trots om vir die tweede agtereenvolgende jaar as hoofborg van Innibos op te tree.

“Ons vennootskap is gegrond op ’n gedeelde verbintenis tot die viering van Suid-Afrikaanse kultuur, kreatiwiteit en gemeenskapsgees. Innibos bring mense deur musiek, kuns, literatuur en teater byeen en lewer terselfdertyd ’n betekenisvolle bydrae tot die ekonomiese lewenskragtigheid van die Laeveld,” het Theron gesê.

IN syfers

Maar Toyota Innibos word nie net aan besoekersgetalle gemeet nie – dit word ook gemeet aan die kilometers kabel wat uitgerol is, die duisende pannekoeke wat gebak is, die blink skoon toilette en die enorme span mense wat agter die skerms gewerk het om die magie moontlik te maak.

Die fees se pendeldiens was vanjaar besiger as ooit.

Die vyf feesbusse het gesamentlik 2 250 km afgelê en 900 ritte voltooi – gemiddeld 180 ritte per bus, of sowat 60 ritte per dag. Meer as 10 200 feesgangers het van dié diens gebruik gemaak, meer as verlede jaar, wat die groeiende gewildheid van die pendeldiens en besoekers se voorkeur vir veilige en gerieflike vervoer na en van die feesterrein beklemtoon.

LEES OOK: Amanda Strydom positief ná val tydens Innibos

Die gewilde Ytipan Innispens-pannekoekstalletjie het vanjaar 12 759 pannekoeke verkoop. Om dié honger te stil is 2 070 eiers, 300 kg koekmeel, 220 kg suiker, 90 liter olie, 12 kg bakpoeier, 6 kg kaneel, 12 liter asyn, 5 kg sout en sowat 6 000 liter water gebruik – genoeg om ‘n klein dorp vir dae lank te laat smul.

Agter die skerms was die hoofverhoog ‘n indrukwekkende tegniese meesterstuk. Sowat 16 km kabel en 800 verhoogligte het die verhoog tot lewe gebring, terwyl ‘n middelste LED-skerm van 16 x 9 m en twee kantskerms van 6 x 9 m elk verseker het dat elke feesganger ‘n uitstekende uitsig op die vertonings gehad het.

Die hoofverhoog is deur twee kragopwekkers aangedryf wat oor die drie feesdae altesaam 2 250 liter diesel verbruik het. Teen ongeveer R30 per liter het die brandstofrekening alleen sowat R67 500 beloop.

Een van Innibos se grootste trots bly egter sy netheid. Altesaam 8 000 swartsakke is gebruik om die feesterrein deurentyd skoon en netjies te hou – nóg ‘n bewys van die enorme logistieke poging wat agter een van Suid-Afrika se grootste kunstefeeste skuil.

LEES OOK: Irene Louise Van Wyk loop Innibos mis weens gesondheid

Ablusie

Die fees se skoon en netjiese toiletgeriewe is jaar ná jaar een van die aspekte wat die meeste lof van besoekers ontvang.

Danksy Loo 4 U, wat altesaam 440 toilette oor die drie feesdae versorg het, is 4 032 rolle toiletpapier, 4 000 papierhanddoekrolle, 440 liter chemikalieë, 150 liter Pine Gel, 50 liter handseep en 20 kg Duo Blocks gebruik om te verseker dat higiëne en gerief nooit tweede viool speel nie.

Elektries

Ook die elektrisiteitspan verdien besondere erkenning vir hul bydrae tot die sukses van Toyota Innibos. Die feesterrein is toegerus met 400 fluoresserende ligte, 50 ekstra kolligte, ongeveer 2 500 kragpunte, 9 000 kabelbinders en 50 meter isolasieband.

Dit neem sowat 45 dae om die volledige feesterrein op te rig en gereed te kry vir duisende besoekers. As deel van Innibos se belegging in die toekoms ontvang 15 vakleerlinge jaarliks praktiese opleiding tydens die voorbereidingsfase.

Onder leiding van gekwalifiseerde elektrisiëns doen hulle waardevolle praktiese ervaring op terwyl hulle help om die omvangryke elektriese infrastruktuur vir die fees te installeer.

Innibos-voorvalle

Die Innibos-sekuriteitspan het bevestig dat daar geen ernstige voorvalle tydens die fees aangemeld is nie. Daar was slegs ‘n paar mediese gevalle weens die stof. Twee bonsaibome is egter glo van die Bonsai Kai Nelspruit-stalletjie gesteel.

Enigiemand met inligting oor die vermiste bonsaibome kan vir Sean Gomersall, sekretaris van die klub, ‘n WhatsApp-boodskap stuur na 072 478 3592.

LEES OOK: Groenes ontsteld oor bonsais wat voete kry by Innibos

Die ware IN-hartklop

Die ware hartklop van Toyota Innibos bly egter sy kunstenaars. Vanjaar het sowat 300 kunstenaars op die fees se verhoë en in teaterproduksies opgetree.

Feesgangers kon kies uit 22 teaterproduksies, vier kuierverhoë en drie wêreldklas-hoofkonserte wat skares op hul voete gehad en telkens na meer laat verlang het.

Innibos 2026 was veel meer as net ‘n musiekfees.

Dit was vier dae van musiek, teater, kuns, boeke, stalletjies, stories, lag, saamkuier, kultuur en herinneringe wat nog lank sal voortleef.

Met nog ‘n suksesvolle fees agter die rug, leef die Innibos-gees voort en kan feesgangers reeds uitsien na nóg ‘n viering van Suid-Afrikaanse kuns en kultuur in 2027.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Gia Radnai

Gia is a senior journalist at Lowvelder and joined the editorial team in 2025. She started her career as a business journalist in 2022 and decided to pursue her dream of becoming a news reporter instead. She believes in giving people a voice and is known for her community and hard news stories.
Back to top button